Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Plaasaanvalle is nr. 2-misdaad in Noordwes

Noordwes is wel een van die provinsies waar die minste moorde die afgelope boekjaar gepleeg is, maar daarenteen is dit die provinsie waar die tweede meeste moorde op plase en kleinhoewes gepleeg is.

Elsa Erasmus se vermeende moordenaars met ’n vroeëre verskyning in die Schweizer-Reneke-landdroshof. Van links is Sam Maretele, Itumeleng Serai, Obakeng Mopalame en Boitumelo Matsuwe. Foto: Susan Cilliers

Die polisie het Dinsdag bekend gemaak dat die meeste van dié moorde (11) in Gauteng gepleeg is, terwyl die tweede meeste voorvalle (9) in Noordwes was.

Die aantal moorde in Noordwes (950) het sedert die 2016-’17-boekjaar, toe 901 moorde gepleeg is, met 5,4% gestyg. Onder die moordslagoffers in 2017-’18 was 182 vroue, 13 meisies en 36 seuns.

Die moord op Elsa Erasmus (74) in Julie 2017 in die Schweizer-Reneke-distrik is maar een van talle plaasmoorde wat gemeenskappe in Noordwes geruk het. Erasmus het sedert die dood van haar man, Hendrik, alleen die boerdery op die plaas behartig. Die egpaar het dekades saam op die plaas in die Amalia-omgewing gewoon en hul kinders daar grootgemaak. Die vier mans wat haar glo ontvoer en vermoedelik met haar eie vuurwapen doodgeskiet het, is intussen vasgetrek.

Hul verhoor begin na verwagting op 15 Oktober vanjaar in die rondgaande hof op Klerksdorp, het Erasmus se dogter, Nada Nel, Dinsdag gesê.

“Ek begin nou eers kwaad word. Ek sien nie kans om weer alles (in die verhoor) te hoor nie.” Nel en een van haar susters, Elma Potgieter, verhuur nou hul gedeeltes van die plaas.

“Ons ander suster, Ciska Muth, het die twee plaaswerkers oorgeneem om te help met die boerdery op haar gedeelte van die grond.”

Veediefstal, nog ’n landbouverwante misdryf, het soos in die res van die land ook in Noordwes toegeneem. In die 2017-’18-boekjaar was daar 3 447 voorvalle in Noordwes, teenoor 3 192 in die vorige boekjaar. Dis ’n toename van 8%.

Die begrafnisbrief van Elsa Erasmus, een van die plaasmoordslagoffers die afgelope boekjaar in Noordwes. Foto: Verskaf

Taung in die Vryburg-distrik, Mogwase naby Sun City en Ventersdorp is boonop onder die top-30-polisiedistrikte landwyd waar die meeste veediefstalle voorgekom het.

In Mogwase was daar ’n allemintige 39%-toename in veediefstalgevalle, terwyl Taung 22,6% meer voorvalle as die vorige boekjaar gehad het.

Kontakmisdrywe in Noordwes het sedert die vorige boekjaar met meer as 1 000 gevalle toegeneem. Dié misdrywe sluit onder meer in moorde, seksuele misdrywe, pogings tot moord, aanrandings en rooftogte. In 2016-’17 was daar 35 483 voorvalle van sulke misdrywe in Noordwes, teenoor 36 604 in die 2017-’18-boekjaar. Dit is ’n styging van 3,2%.

In Noordwes was daar 34 voorvalle waar meer as een mens saam vermoor is. Daar was 25 gevalle waar twee mense gelyktydig vermoor is en sewe gevalle waar drie mense gelyktydig vermoor is.

Meer oor:  Noordwes  |  Moorde  |  Plaasaanvalle  |  Misdaadstatistieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.