Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Plaasaanvallers rand jong man wreed in huis aan

WAARSKUWING: HIERDIE BERIG BEVAT 'N FOTO WAT SENSITIEWE LESERS KAN ONTSTEL.

’n Jong man moes ’n operasie ondergaan om die bloeding op sy brein te verlig nadat hy wreed aangerand is in die plaashuis wat hy met twee huismaats deel.

Marcel Crouse (21), Brandon Smit (21) en Franco (20) is Woensdag in die vroeë oggendure in die huis wat hulle deel deur gewapende aanvallers oorrompel, vasgebind en toe vir amper ’n uur lank aangehou.

Franco se van word op versoek van sy ma, Elize, weerhou.

Marcel Crouse (21) in die hospitaal. Hy moes Woensdag ’n operasie ondergaan om die bloeding op sy brein te verlig.

Sy het Donderdag aan Netwerk24 gesê haar kind vrees vir sy lewe ná die aanval.

“Hulle drie het daar vasgebind gesit en nie geweet of hulle gaan lewe nie terwyl hulle gesien het hoe word vuurwapens uit die kluis gesteel,” sê Elize.

Die drie jongmans het sowat ’n maand gelede saam in die plaashuis ingetrek om ’n hoenderboerdery op die been te bring.

Brandon het ook dié plaas bestuur wat aan sy pa, Gerrie, behoort. Die plaas is tussen Pretoria en Bela-Bela in die Rust de Winter-omgewing geleë.

Marcel was Donderdag nog in die Netcare Montana-hospitaal in Pretoria.

Volgens sy ma, Cherise, moes hy Woensdagaand ’n operasie ondergaan om die bloeding op sy brein te verminder.

Sy skedel is in die aanval gekraak en sy regteroog is toegeswel. Woensdag was sy hart nog ’n bietjie geswel weens die houe wat hy daar gekry het, maar teen Donderdag was die dokters tevrede dat hy nie enige blywende skade aan sy hart opgedoen het nie.

Marcel is getraumatiseerd en praat nie oor die aanval nie, sê Cherise.

Franco en Brendon het nie enige ernstige beserings opgedoen nie, maar is wel later vir skok behandel.

Volgens Gerrie het vier mans by die huis ingebreek.

Hy sê drie ander plase se drade is Woensdag geknip om by die plaashuis uit te kom.

'Ek wil nie nog ’n keer teruggaan om my kind se lyk op daai plaas op te tel nie,' sê Cherise.

Hy meen die verdagtes het met voorbedagde rade opgetree.

“Hulle het kouse aan hul hande gedra en geen vingerafdrukke kon gevind word nie,” sê Gerrie.

Die verdagtes het glo eerste op Marcel toegeslaan waar hy in sy kamer geslaap het. Hy is met ’n moersleutel geslaan.

Hierna het die rowers na die sitkamer gegaan waar Brandon en Franco aan die slaap geraak het.

’n Skoot is geskiet en Brandon en Franco is gedwing om op hul mae op die grond te lê, waarna hulle hande en voete met draad vasgebind is. Hulle is ook toegegooi met komberse.

Die verdagtes het hierna onder meer ’n kluis, Marcel se motorfiets en TV-stel en twee vuurwapens gebuit en met die plaasbakkie weggery, sê Gerrie.

Franco en Brendon kon later daarin slaag om hulself los te wikkel en by bure om hulp aan te klop.

Konst. Connie Moganedi, polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê ’n saak van huisroof word ondersoek. Volgens haar is die polisie op soek na drie verdagtes.

Enigiemand met inligting wat die polisie kan help kan die Cullinan-polisiekantoor op 012 734 0751 skakel.

Al drie die jong mans se ouers sê hulle sal beslis nie na die plaas terugkeer nie.

“Ek wil nie nog ’n keer teruggaan om my kind se lyk op daai plaas op te tel nie,” sê Cherise.

Marcel Crouse (21) is onder meer met ’n moersleutel in die gesig geslaan.
Meer oor:  Bela-Bela  |  Pretoria  |  Plaasaanval  |  Aanranding  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.