’n Plaaswerker van Petrus Steyn, Mdesheni Radebe (34), het die soveelste slagoffer die afgelope tyd van ’n plaasaanval geword toe hy Woensdag omstreeks 02:00 in sy huis aangeval en beroof is.
Die huis is op die plaas Swartfontein, by die Ramaela-plaasskool.
Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê twee mans het Radebe met ’n pistool aangehou en hom van sy motor, kontant en kruideniersware beroof.
Die motor, ’n bruin Toyota Corolla, is Woensdag sowat 15 km buite Petrus Steyn gevind waar die twee rowers dit langs die pad gelos het.
Die aanval op Radebe volg op ’n mislukte plaasaanval by Verkykerskop op Magdaleen Brits verlede Vrydag.
Maandagmiddag is nog ’n vrou, Tyla Jankielsohn, buite Marquard by haar plaashek ingewag en aangeval.
Jankielsohn kon terugbaklei en in haar bakkie wegjaag.
Vyf mans van Mosambiek het Dinsdag op Warden in die hof verskyn in verband met die aanval op Brits.
Intussen is boere van Petrus Steyn ontevrede omdat ’n man, Papi Mofokeng, Maandag op borgtog vrygelaat is nadat hy in verband met ’n plaasaanval in Augustus vanjaar in hegtenis geneem is.
Dié aanval was in dieselfde gebied op ’n plaas tussen Reitz en Petrus Steyn.
Weroeske de Wet (17) het een van die aanvallers met die vuis bygedam en kon weghardloop en op haar selfoon hulp ontbied.
Die mans, wat met die De Wet-gesin se motor gevlug het, het dit ’n ent verder langs die pad gelos.
Mofokeng is verlede week in verband met die aanval in hegtenis geneem, maar is Maandag op borgtog vrygelaat.
’n Vermeende plaasmoordenaar, Jacob Makoena, is op 29 Oktober op borgtog vrygelaat. Makoena word daarvan verdink dat hy Jan de Kock (69) ses jaar gelede buite Petrus Steyn vermoor het.
Hoewel Mokoena ses jaar lank die gereg kon ontduik, is hy op borgtog van R3 000 vrygelaat.
https://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/plaasmeisie-slaan-aanvaller-katswink-20200819
https://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/tawwe-broerskind-van-da-leier-in-vs-verwilder-aanvallers-20201201