Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Plaasmisdaad hou net aan styg

Die misdaadstatistieke vir landelike gebiede wys dat plaasmoorde en -aanvalle in die laaste kwartaal van die afgelope boekjaar skerp toegeneem het vergeleke met die vorige twee jaar.

Dié statistieke is Vrydagmiddag deur Bheki Cele, minister van polisie, in Pretoria uitgereik.

In die laaste kwartaal van 2018-’19 en 2019-’20 is daar elke keer ses moorde aangeteken. Vanjaar is 11 mense op plase of kleinhoewes vermoor.

Die laaste kwartaal van die boekjaar is die drie maande van Januarie, Februarie en Maart vanjaar.

Aanvalle het ook skerp gestyg van 64 (2018-’19) en 66 (2019-’20) tot 130 vanjaar.

Plaasaanvalle het in al die provinsies buiten die Noord-Kaap gestyg, met KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Mpumalanga en Noordwes wat die skerpste stygings toon.

KwaZulu-Natal is die provinsie wat tans die swaarste onder plaasmoorde en -aanvalle gebuk gaan.

Daar was van Januarie tot einde Maart 20 aanvalle en vier moorde op kleinhoewes en plase in dié provinsie.

Die Oos-Kaap het ook erg onder plaasaanvalle deurgeloop, terwyl veediefstal hier ook skerp gestyg het.

Plaasaanvalle het van 11 tot 21 hier toegeneem, maar geen plaasmoorde is aangeteken nie.

Bobby Stevenson, ’n DA-parlementslid, sê daar is dringend spesialiseenhede in die Oos-Kaap nodig om landelike misdaad te bekamp.

Die 30 polisiekantore in die land waar die meeste veediefstal aangemeld word, is oorwegend in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap.

Agt van die polisiekantore is in die Oos-Kaap, 14 in KwaZulu-Natal, twee in Noordwes en vier in Mpumalanga.

Twee Vrystaatse polisiekantore, dié in Vrede en Harrismith, is onderskeidelik in die 12de en die 29ste plek.

Dr. Jane Buys, misdaad- en risiko-ontleder by Vrystaat Landbou (VL), sê daar was van Maart 2020 tot Maart 2021 12 moorde en 61 aanvalle op plase of hoewes in die provinsie, maar die laaste kwartaal was aansienlik stiller as die bloedige derde kwartaal van verlede jaar.

Brendin Horner (Paul Roux), Pieter en Eddie Hills (Hennenman), Mark Regal (Odendaalsrus), Andries Loots (Virginia) en Dave Wessels (Viljoenskroon) is in Oktober en November in die Vrystaat vermoor.

David Leslie en Teboho Machakela is ook in Oktober dood nadat hulle vroeër gewond is.

Buys sê 26 aanvalle het in die afgelope boekjaar voorgekom.

Sy sê dit is moeilik om te weet wat die daling in veediefstalsyfers beteken. Aan die een kant help veiligheidskameras om veediewe af te skrik, maar aan die ander kant kan dit ook wees dat die nie-aanmelding van veediefstal toeneem.

Buys sê waar sigbare polisiëring toegepas word, sien boere beslis ’n afname in veediefstal.

’n Nuwe misdaadkategorie is ook by landelike misdaad gevoeg, naamlik die syfers van werkers en plaasbewoners wat deur boere of plaasbestuurders aangerand is, of waar daar poging tot moord was. Omdat dit ’n nuwe kategorie is, is daar nie vergelykende syfers nie.

KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap het elk ses sulke voorvalle aangemeld, die Vrystaat vier, Limpopo twee en die Oos-Kaap en Noordwes een elk.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.