Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Plaasmoord: Vrou 15 uur vasgebind, man bloei dood

’n Bejaarde inwoner van Glendale Heights buite Ballito in KwaZulu-Natal, het bykans 15 uur lank probeer om haarself los te kry sodat sy haar sterwende man kon help nadat hulle op die suikerplaas De Mist aangeval is.

Bob Gawler (83) is dood enkele ure nadat rowers hom in die maag geskiet het. Hy het hom vermoedelik doodgebloei. Die rowers het sy vrou, Denise (74), se hande met kabelbinders vasgebind.

Hulle is Vrydag omstreeks 18:00 in hul huis oorval.

Ricky Pissarra, die egpaar se skoonseun, het Dinsdagoggend gesê Denise is erg getraumatiseer en sukkel om oor die gebeure van Vrydagaand en -nag te praat.

“Dit is nóg ’n plaasmoord.” Hy dink die voorval is beslis nie politiek gemotiveerd nie. Die doel daarvan was om te roof. “Nou het dit ook moord geword.”

Die rowers het by die glasskuifdeur ingebars. “Denise het op haar bed gelê. Sy het onlangs ’n knievervanging ondergaan en herstel nog.

’n Buurman het gaan kyk wat by die huis aangaan en op Bob se lyk afgekom en Denise hulpeloos op die mat sien lê.

“Bob het pas uit die stort gekom. Hy is in die gang met sy eie vuurwapen doodgeskiet. Hy is nie onmiddellik dood nie en was duidelik in ’n verskriklike geveg met die rowers betrokke. Ons kon die kneusplekke aan sy hande sien.”

Pissarra sê Denise het die skote gehoor en van die slaapkamer na haar man, wat in die gang gelê het, probeer kruip. Sy het haar probeer loswikkel, maar kon nie daarin slaag nie en kon nie by hom uitkom nie.

“My skoonouers sou die volgende dag by ons in Ballito kom kuier. Toe ons niks van hulle hoor nie, het ek die oggend omstreeks 09:00 die bure gebel. ’n Buurman het gaan kyk wat by die huis aangaan en op Bob se lyk afgekom en Denise hulpeloos op die mat sien lê. Dit is ’n traumatiese tyd. Ons is ’n baie hegte familie.”

Die gemeenskap van Ballito en Glendale Heights het hul hart vir die familie oopgemaak en hulle met liefde oorlaai.

’n Gedenkdiens vir Bob word Vrydag om 14:30 uit die Anglikaanse kerk in Umhlali gehou.

Bob word ook deur vier dogters oorleef.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie in KwaZulu-Natal, sê in ’n verklaring drie rowers het die egpaar oorval. Denise se hande is met kabelbinders vasgebind terwyl die aanvallers haar man gedwing het om die kluis oop te sluit.

Die rowers het ’n haelgeweer en ’n rewolwer uit die kluis gevat en Bob geskiet. Hulle het met sy Toyota Hilux-bakkie weggery. Dit is later verlate in die Molweni-omgewing gekry.

Zwane sê niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Ballito  |  Bejaarde  |  Plaasaanval  |  Rowers  |  Plaasmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.