Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Plaasmoorde ‘laat bittere leemte’

Die getal plaasmoorde is steeds kommerwekkend hoog, al toon statistieke daar is ’n landswye afname in dié misdade, sê Tommie Esterhuyse, veiligheidshoof van Agri SA.

Esterhuyse sê hoewel die polisie aangekondig het dat daar in die 2018-’19-boekjaar 47 moorde gepleeg is teenoor die 62 plaasmoorde in die vorige boekjaar, bly dit baie hoog en kom dit neer op byna vier moorde per maand.

Die slagoffers was deel van hegte gemeenskappe en hul moorde laat ’n bittere leemte, sê hy.

Tommie Esterhuyse

“Aanvalle op die landbougemeenskap en die brutaliteit daarvan, is onaanvaarbaar en dit neem kommerwekkende afmetings aan,” sê Esterhuyse.

“Alles moet in die stryd gewerp word om dié gemeenskappe, wat die voedselsekerheid van Suid-Afrika verseker, te beskerm.”

Hy sê hoewel die plaasmoordsyfer van die laagste is wat in die laaste paar jaar aangeteken is, beteken dit nie dat die landbousektor minder paraat kan wees nie. Die realiteit is dat 47 moorde steeds 47 te veel is.

“Plaasaanvalle en -moorde kom al dekades voor en drastiese optrede, gesteun deur die nodige politieke wil, is nodig om dit te voorkom,” sê hy.

“Boere maak noodgedwonge op private veiligheidsmaatskappye staat omdat plaaslike polisiekantore nie genoeg ondersteuning bied nie. Die vennootskappe met die private sektor werp vrugte af en dra tot die sukses van misdaadbekamping by.”

Volgens die polisie se statistieke het veediefstal toegeneem. ’n Opname deur Agri SA toon dat eiendomsverwante misdade – insluitend veediefstal, die diefstal van plaasinfrastruktuur en -werktuie – die grootste impak op die landbou het met skade wat miljarde rande beloop.

Misdaadsindikate is al hoe meer by veediefstal betrokke en die polisie moet dit as sodanig ondersoek, sê Esterhuyse.

Hy sê ook dat boere al hoe minder eiendomsmisdade aanmeld omdat daar nie meer vertroue in die strafregstelsel is om ’n suksesvolle vervolging van misdadigers te verseker nie. Volgens Esterhuyse is daar die afgelope 15 maande 2 700 stuks vee in Harrismith en Bethlehem gesteel waarvoor 300 klagte ingedien is. Net een inhegtenisneming is egter gemaak.

Agri SA het die polisie bedank dat plaasaanvalstatistieke by misdaadstatistieke ingesluit word. Esterhuyse sê dit dui daarop dat daar ’n gesindheidsverandering by die polisie is en dat hulle die erns van die saak besef en erken.

Agri SA verwelkom ook die hersiene strategie vir landelike beveiliging wat binnekort bekend gestel sal word. Esterhuyse sê die organisasie was aktief betrokke by die opstel van dié strategie en hoop dit sal verder momentum aan plaasbeveiliging verleen en die landbousektor beskerm.

Meer oor:  Agri Sa  |  Tommie Esterhuyse  |  Misdaad  |  Plaasmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.