Die moord op Mark Regal (50) op ’n plaas buite Odendaalsrus is die vierde plaasmoord in ses jaar in die Odendaalsrus-gebied, waar baie plaasaanvalle ook al plaasgevind het.
Twee van die moorde het die afgelope tyd plaasgevind.
Regal is Woensdagaand doodgeskiet toe hy en sy vrou, Angela, op sy pa, Joe, se plaas, Thelma, net buite die dorp aangeval is.
’n Nigeriese burger is in die aanval deur Angela doodgeskiet.
Teboho Machekela (37) is verlede week dood nadat hy in September in ’n plaasaanval in sy kop geskiet is.
Machekela, ’n beesboer, het ’n plaaswinkeltjie op sy plaas buite Odendaalsrus bedryf.

Die toneel waar Jan Barnard se Duitse herdershond op die plaaswerf doodgeskiet is. Foto: Alet van der Walt
In November 2015 is Jan Barnard (73) op sy plaas, Palmietkuil, doodgeskiet toe sy moordenaars sy huis se krag afgeskakel het. Barnard wou ’n kragopwekker gaan aanskakel en is buite die huis voorgelê.
Sy vrou, Corrie, het na hom gaan soek en is in haar heup geskiet.
Corrie kon nie weer opstaan nie en het die heelnag by haar man se lyk gesit. ’n Plaaswerker, wat die egpaar se dooie hond op die werf gesien het, het op haar afgekom.
Niemand is ooit vir die moord op Barnard in hegtenis geneem nie.

Jan Barnard is vyf jaar gelede op sy plaas, Palmietkuil, buite Odendaalsrus vermoor. Foto: Alet van der Walt
’n Jaar voor dit op 30 Oktober 2014 is Willie Janse van Rensburg (69), op ’n buurplaas, Nuwejaarsbosch, doodgeskiet. Sy skoondogter en kleinkinders was ook op die plaas en is ook deur die bende aangeval. Janse van Rensburg, ’n melkboer, se moordenaars is gevang en is in 2015 gevonnis.
Op 4 Desember 2017 is Peter (87) en Unie (82) Brown op nóg ’n buurplaas, Stillewoning, aangeval. Ses gewapende mans het die egpaar se honde vergiftig en hulle in die nag in die huis oorval.
Peter, wat nog geboer het, het ernstige kop- en borsbeserings in die aanval opgedoen.
Die Browns het ná die aanval by hul dogter, Louise Wigget, gaan bly. Hoewel die polisie twee mense vir die aanval in hegtenis geneem het, is niemand suksesvol vervolg nie.