Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Plaasmoorde so oud soos landbou self in SA

Plaasmoorde en -aanvalle is deesdae, danksy sosiale media, skerp in die kollig. Dit is egter nie ’n nuwe ding nie en dié soort misdaad is byna so oud as wat kommersiële boerdery in die land is.

Die eerste plaasmoord is gepleeg 18 maande nadat Jan van Riebeeck in die Kaap gekom het toe ’n Nederlandse veewagter, David Jansz, op 19 Oktober 1653 vermoor is. Die hele kudde vee wat hy opgepas het, is in die proses geroof.

Harry die Strandloper is van dié moord beskuldig.

’n Koerantberig nadat drie mans buite Bethlehem vermoor is. ’n Nasaat van een van dié mans is in 2019 op dieselfde plaas vermoor.

Die situasie het mettertyd so erg geword dat ’n mens selfs die Groot Trek daaraan kan toeskryf, sê Lukas Swart, ’n misdaadkenner.

Die misdaadsituasie aan die oostelike grens het so onuithoudbaar geraak dat die boere in 1836 opgepak en die binneland ingetrek het.

Die historikus dr. Louis Bothma sê daar is beslis ooreenkomste tussen die huidige situasie op plase en die konflik wat oor ’n eeu tydens die nege grensoorloë in die Oos-Kaap geheers het.

Net soos nou is die kommandostelsel, waarop Suid-Afrikaanse boere swaar gesteun het, destyds deur die Engelse afgeskaf.

Dieselfde ding het weer gebeur in 2003 toe die ANC-regering die kommandostelsel tot niet gemaak het.

’n Koerantberig nadat drie mans buite Bethlehem vermoor is. Miemie Frost, ’n nasaat van een van die mans, is in 2019 op dieselfde plaas vermoor.

In die huidige bedeling was die kommandostelsel egter nie oral so doeltreffend nie en die waarheid is dat daar meer plaasmoorde was in die tyd toe die kommando’s nog funksioneel was as wat daar vandag is.

Bothma sê destyds het die boere aan die oosgrens net soos nou gevoel die regering van die dag is hulle nie goedgesind nie.

Tydens die sesde grensoorlog (1834 tot 1836) is 161 000 stuks kleinvee en 114 000 beeste gebuit, terwyl 465 opstalle afgebrand en meer as 20 boere vermoor is.

Ondanks dié situasie het ’n relatief klein persentasie mense aan die Groot Trek deelgeneem. Sowat 20% van die grensboere of 10% van die totale wit bevolking het uit die Kaap die binneland ingetrek.

Grond, die konflik oor grond en veediefstal was nog altyd deel van die landbougeskiedenis in Suid-Afrika.

In 1902 is Koos Mostert, Johannes Heymans en ’n familielid, ene McCardy, op die plaas Tamboekiesbank buite Bethlehem deur die berugte Klaas-bende vermoor.

Konflik oor gesteelde vee het tot dié moorde gelei.

Die muur van herinnering by Nampopark buite Bothaville is opgerig om boere en hul werkers wat op plase vermoor is te huldig. ’n Standbeeld en nege suile, een vir elke provinsie, is hier opgerig.

In 2019, 117 jaar later, is Miemie Frost, ’n nasaat van Mostert, op dieselfde plaas vermoor.

Dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies stem saam dat ’n mens plaasmoorde in ’n historiese konteks kan sien.

Hy sê volgens ’n verslag van die Komitee van Ondersoek na Plaasaanvalle wat in 2003 gepubliseer is, is 147 mense in 2001 op plase en kleinhoewes vermoor.

Dié hoë voorkoms van plaasmoorde het daartoe gelei dat die georganiseerde landbou die minister van veiligheid en sekuriteit destyds gevra het om iets aan die kwessie te doen. Hy het toe die komitee aangestel.

In 2003 het pres. Thabo Mbeki onverwags in die parlement aangekondig die kommandostelsel word afgeskaf. Die stelsel is toe oor die volgende ses jaar uitgefaseer.

Volgens die polisie se syfers vir 2018/’19 is 47 mense op plase en kleinhoewes vermoor en volgens TLU-SA se syfers vir 2019 was daar 56 plaasmoorde.

Daar was dus eintlik sedert die vroeë jare 2000 ’n beduidende daling in plaasmoorde.

James Myburgh, redakteur van die webwerf Politicsweb, sê plaasmoorde moet ook in die lig van die meer onlangse historiese konteks van die bevrydingstryd gesien word.

Myburgh sê wit boere is in die jare 1980 deur die bevrydingsbewegings as ’n hoë prioriteit-teiken gesien.

“Dit het gelei tot aanvalle op plase asook die plant van landmyne. MK-soldate het ook radikale jeugdiges opgelei in hul stryd teen die apartheidsregering.”

Die geweld op plase het eers werklik toegeneem nadat die bevrydingsbewegings in 1990 ontban is en die jare 1990 tot die middel 2000’s was ’n bloedige tyd op die plase, sê hy.

Die destydse Suid-Afrikaanse Landbou-Unie (SALU) het in 1991 66 plaasmoorde aangeteken, die syfer het in 1994 gestyg tot 92.

Pieter Kemp, ’n boer van Parys, by die Vrystaatse suil van die muur van herinnering waar sy oupa, JH Greeff, wat in 1994 vermoor is, se naam ook in marmer graveer is.

Teen 2000 het die syfer tot ’n skokkende 150 gestyg. Binne twee jaar, van 1998 tot 2000, is net soveel boere in Suid-Afrika vermoor as wat tydens die hele Rhodesiese konflik in Zimbabwe vermoor is.

Myburgh sê hy glo die ANC het op die minste nie veel gedoen om dié soort misdaad te stop nie en op die ergste glo hy dat radikales in die bevrydingsbewegings die pot aan die kook probeer hou.

Hy sê hoewel dit so is dat die moordsyfer op plase baie gedaal het, moet ’n mens in ag neem dat daar nou omtrent die helfte minder boere is as in 1996.

Die getal boere het van sowat 60 000 tot sowat 30 000 gedaal.

Soos ’n mens in die kassie hierby kan sien, het die getal moorde ná 1990 skerp gestyg, maar sedert die middel 2000’s stelselmatig begin daal.

Hoewel die syfers tans die helfte minder is as in die vroeë 2000’s het dit die afgelope tyd weer begin styg.

Myburgh sê ’n mens moet in ag neem dat die moordsyfer per capita nie veel afgeneem het nie omdat daar nou minder boere is.

Lukas Swart voeg by boere het meer paraat geraak, maar hy is bekommerd omdat dit lyk of daar nou weer ’n toename is.

Plaasmoorde voor 1990 en daarna:

Gauteng: 5 voor 1990 en 547 daarna.

Noordwes: 13 voor 1990 en 337 daarna.

Limpopo: 12 voor 1990, 242 daarna.

Mpumalanga: 6 voor 1990, 360 daarna.

Vrystaat: 27 voor 1990 en 324 daarna.

Oos-Kaap: 12 voor 1990, 204 daarna.

Noord-Kaap: geen tot 1993, 76 daarna.

Wes-Kaap: 4 voor 1990, 134 daarna.

KwaZulu-Natal: 15 voor 1990, 395 daarna

(Syfers soos teen einde November)2

Wanneer ’n mens na die nege suile by Nampo se muur van herinnering kyk, besef jy Suid-Afrika was nog nooit ’n veilige land nie en dat plaasmoorde selfs in die apartheidsjare voorgekom het.

Die oudste moord wat by Nampo aangeteken is, was in 1959 toe P.W. Roux (87) in die distrik Cradock vermoor is.

Die polisie het in daardie jare egter wel gesorg dat die moorde nie soos sedert die vroeë 90’s ’n alledaagse gebeurtenis word nie.

• Mense wat na die syfers wil kyk of weet van name wat nie op Nampo se muur verskyn nie, kan die webwerf  https://www.muur.co.za/ besoek of 'n e-pos stuur aan henboer@gmail.com.

Meer oor:  Geskiedenis  |  Boere  |  Misdaad  |  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.