Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Plaasmoorde: Trane loop by muur met 2 634 name

Die “moordmuur” naby Bothaville in die Vrystaat moes vanjaar uitgebou word vir boere en plaaswerkers wat al vermoor is.

Die Muur van Herinnering, ’n monument wat elke jaar op die Nampo-oesdag se terrein nuwe name bykry, het vanjaar 2 634 mense se name op die suile gegraveer gehad.

Verskeie mense raak emosioneel wanneer hulle die name van vermoorde plaasmense op die Muur van Herinnering sien. Foto’s: Deon Raath

Elke provinsie het ’n suil of steen van ysterklip met ’n marmerblad.

Gauteng, Mpumalanga, Noordwes, KwaZulu-Natal en die Vrystaat moes vanjaar ekstra stene kry. Graan SA moes vir Gauteng se muur, waar daar al 541 name verskyn, ’n tweede steen verskaf. Die monument is op 7 Maart 2002 onthul.

Riana Claassens, die sekretaresse van die Hennenman-boerevereniging wat die databasis onderhou, sê die enigste name wat ingesluit word, is van mense wat op plase vermoor is. Dit sluit mense in wat deur hul familielede of bure vermoor is.

‘Party noem dit sommer die Muur van Troos.’

“Party mense noem dit sommer die Muur van Troos. Ek kan nie glo die voorste stene is al volgemaak nie. Dit maak my sommer hartseer om daaroor te dink,” het Claassens die afgelope week by die muur gesê.

Verskeie mense huil voor die monument omdat hulle familie, vriende en bure se name herken.

Adriaan Kleyn, ’n boer van KwaZulu-Natal, het na sy buurman, Terry Rizzato van Hluhluwe, se naam gewys. “Hy het kontant in sy huis gebêre en diewe het dit uitgevind,” sê Kleyn. “Hy is (in 2017) in sy huis doodgeskiet.”

Jurianne Schreuder, ’n koringboer van die Wes-Kaap, het trane in sy oë gekry oor sy buurman Joubert Conradie se naam.

Die muur van herinnering.

“Sy vrou het die skote gehoor en toe stap hy by die huis in en sê vir haar: ‘My skat, ek is geskiet’.

“Hy was só ’n sagte mens. Sy dood was die rede waarom Swart Maandag in die Kaap gehou is,” sê Schreuder.

Meer as 80 name is vanjaar en verlede jaar tot die muur gevoeg.

jaco.nel@rapport.co.za

Meer oor:  Bothaville  |  Plaasmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.