Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Plaasvrou se kophou, mooipraat stuit haar aanvallers

“Dis nie in my oë wat jy gaan spuit nie, jou ouma kyk na jou deur my oë.”

Berdine Vos wys waar sy gesit het toe sy die afgelope Maandag aangeval is en waar sy met ’n klip geslaan is. Foto’s: Plantjie Janse van Rensburg

Met dié woorde het ’n 66-jarige vrou van die Noord-Kaap ’n jong aanvaller gestuit wat haar met haar seun se deodorant in die oë wou spuit nadat hy vroeër gedreig het om haar vir “entjies” dood te maak.

“Toe spuit hy net homself op die bors,” vertel Berdine Vos.

Sy sê sy het nie vir een oomblik beheer verloor oor die situasie toe sy die afgelope Maandag in haar huis op ’n plaas naby Vanwyksvlei aangehou is nie.

“Ek het so 17:15 op die stoep van my plaashuis gesit en rook. Dit was net voor ek met die aandwerk sou begin het. Jy weet, die hond kos gee en kos maak en so aan.”

Twee tieners het skielik om die agterhoek van die huis verskyn.

“Die een het twee klippe gehad en die ander een ’n klip en ’n mes. Hulle sê toe: ‘Ons soek entjies. Ons gaan jou f****n vrek maak.’ Toe weet ek hier is moeilikheid.” Sy sê alles het in stadige aksie gebeur.

Berdine Vos (66) het die afgelope Maandagaand voor die kaggel gesit en ’n blokkiesraaisel invul terwyl sy vir hulp gewag het nadat sy deur twee jeugdiges aangeval is op ’n plaas naby Vanwyksvlei in die Noord-Kaap. Foto: Plantjie Janse van Rensburg

“Ek het my bril afgehaal en gekoes, toe slaan die een my met ’n klip teen my kop. Ek vra toe vir hulle: ‘Hoekom doen julle dit aan my? Ek kon julle ouma gewees het.’ En toe kan ek sien hoe hulle kwaad sagter word,” sê Vos.

Sy het besef sy moet kalm bly.

“Hulle het sigarette gesoek. Die regering maak mense rasend met die verbod. Toe ek my handsak oopmaak – daar was twee pakkies in – sien hulle my beursie.”

Die rowers het die ongeveer R1 500 in haar beursie gevat.

“Die een was na die yskas toe en haal die lewersmeer uit. Toe sê hy sommer so lelik vir my ‘maak vir my kos’ en toe eet hy die smeer.”

Sy het ’n pan uitgehaal om te begin kosmaak.

“Ek sê toe vir hom: ‘My kleinseun sal nie so met sy ouma praat nie.’ Toe sê hy ‘los dit’ en loop badkamer toe,” sê Vos.

Sy het deurentyd met haar aanvallers gepraat.

“Ek het vir een gesê: ‘Luister my skat, moenie so hard wees nie, word sag. Roep jou pel.’ Toe vertel ek hulle ek kan sien dat hulle oulike kinders is. Ek was die hele tyd in beheer,” sê Vos.

Sy het selfs een van haar sigarette teruggekry.

“Ek het vir hulle gesê ek moet rook vir my senuwees, toe sê die een ‘enige tyd mevrou, dis after all u sigarette’ en toe steek hy hom vir my aan. Hulle het my die hele tyd mevrou genoem.”

Buiten haar selfoon, geld en sigarette het die aanvallers drank en juwele ook gevat.

“Daar was whisky, brandewyn en bier. Ek het vir hulle gesê ‘stop gou en kyk vir my’ toe vra ek hulle of hulle nou soos mans voel omdat hulle ’n ou vroutjie in haar huis geïntimideer het. Hulle het lank net na my gestaar en toe begin inpak.”

Sy sê sy moes net keer toe hulle die messelaai oopmaak. “Ek het gesê hulle kan nie al die messe vat nie, ek moet vir my mense slag. Toe vat hy drie,” sê Vos.

Een van die aanvallers het haar selfs om verskoning gevra.

“Hy het gesê hy sal eendag vir my kom werk om jammer te sê.”

Sy gee ’n dapper laggie.

“Die ander een het gesê hierdie is ’n k*k huis om by in te breek, hier is niks om te steel nie,” sê Vos.

Buite het sy hulle gevra waar haar beeshond Toska is. “Hy het gesê Toska lê agter. Toe ek daar kom was Toska weg. Sy is nou terug en oukei, maar sy los my nie vir drie sekondes alleen nie.”

Sonder haar selfoon kon sy nie hulp ontbied nie. “Ek het maar ’n kaggeltjie gepak en blokkiesraaisels ingevul terwyl ek gewag het vir ’n kar op die plaaspad wat ek kan aftrek.” Teen 23:00 het sy danksy die aanvallers hulp gekry.

“Hulle het per ongeluk my buurman met my selfoon gebel. Hy het die stemme in die agtergrond gehoor en geweet hier is fout. Toe daag die hele Vanwyksvlei gewapen op. Dit was net stof en bakkies.”

Twee jeugdiges is in die vroeë oggendure aangekeer. “Hulle het by ’n huis in die dorp ingebreek en is 02:00 daar in hegtenis geneem,” sê Vos.

Mojalefa Senokoatsane, ’n woordvoerder van die vervolgingsgesag in die Noord-Kaap, sê twee 17-jariges het Donderdag in die hof verskyn.

“Hul saak is uitgestel tot Maandag toe sodat hulle regshulp kan kry. Al twee bly tot dan in aanhouding.”


Meer oor:  Noord-Kaap  |  Sigarette  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.