Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Plaasweduwee wil jong slagoffer bystaan

Bernadette Hall se lewe is sewe jaar gelede omvergewerp toe haar man, David, in ’n plaasaanval naby Fochville in Gauteng doodgeskiet is.

Nou hoop sy sy kan ’n tienermeisie bystaan wat Maandagoggend in ’n plaasaanval in dieselfde omgewing verkrag is.

Bernadette Hall en André van den Berg.

“Elke mens verwerk hierdie trauma verskillend, maar ek is bereid om te help as die familie wil. Al praat ons nie, kan ons op ’n klip sit en in die verte kyk,” sê Hall.

Sy sê sy ken nie die gesin wat op hul plaas in die Westonaria-omgewing aangeval is nie, maar sy wil hulle ontmoet en bemoedig wanneer hulle daarvoor gereed is.

Dié plaasaanval is volgens Ian Cameron, AfriForum se hoof van landelike veiligheid, die 165ste sedert 1 Januarie vanjaar in die land. Sowat 20 plaasmoorde is in dié tydperk gepleeg.

Die 17-jarige meisie en haar pa is luidens ’n polisieverklaring Maandagoggend omstreeks 05:30 oorval toe hulle op pad uit was om haar skool toe te neem. Sowat vyf rowers het hulle in die huis teruggedwing en die 55-jarige pa oor die kop geslaan. Hulle het die meisie verkrag en daarna met die gesin se silwergrys Ford Ranger, vuurwapens en ander huishoudelike items gevlug. Die voertuig is later verlate in die Zenzele- informele nedersetting naby Westonaria gevind. Nog niemand is teen Dinsdagmiddag aangekeer nie.

’n Buurman het die pa en dogter na ’n hospitaal geneem, maar hulle is reeds ontslaan. Hy het Dinsdag gesê hulle is erg getraumatiseer en woon tydelik by vriende in ’n nabygeleë dorp. Hulle wil die tienermeisie nou beskerm en van die media af weghou.

Hall en haar vriend, André van den Berg, boer deesdae saam op die plaas naby Fochville waar David Hall in Februarie 2012 vermoor is. Hy en Bernadette was vroegoggend in die melkery op die plaas besig toe hulle oorval is. David is in ’n mielieland doodgeskiet en Bernadette aangerand.

“Die herinneringe bly vars, soms is dit net ’n reuk of ’n stem wat jou terugneem. ’n Mens bly altyd waaksaam en versigtig nadat so iets gebeur het, maar ek is bly ek het op die plaas aangebly. David was my lewe en hulle het dit van my weggevat. Ek kon nie toelaat dat hulle my lewe ’n tweede keer wegneem deur ook die plaas van my af weg te vat nie.”

Hall bedryf nie meer ’n melkery op die plaas nie. Sy en Van den Berg boer met vleisbeeste, varke en skape.

Twee verdagtes wat ná die aanval op die Halls in hegtenis geneem is, is in hul verhoor in 2013 vrygespreek omdat die staat nie kon bewys hulle was by die aanval betrokke nie.

Dit skep ’n magdom ander probleme, byvoorbeeld dat die veiligheid op die plaas verder versleg en die werkers meer blootgestel is.

Naudé Pienaar, adjunkhoofbestuurder van Agri-Noordwes, sê daar is deesdae ’n toenemende neiging onder boere om hul gesinne in nabygeleë dorpe te laat woon ter wille van hul veiligheid. Sommige boere woon ook in dorpe en ry heen en weer plaas toe om te boer.

“Dit skep ’n magdom ander probleme, byvoorbeeld dat die veiligheid op die plaas verder versleg en die werkers meer blootgestel is.”

Boeta du Toit, hoofbestuurder van Agri-Noordwes, sê daar is nog nie amptelike opnames gedoen oor boere wat weens veiligheidsoorwegings op dié manier boer nie.

“Praktiese oorwegings speel ook ’n rol omdat ’n gebrek aan skoolbusse en swak paaie dikwels vervoer van kinders na dorpe bemoeilik. Dis ook gerieflik om in ’n dorp naby winkels en skole te wees. Veiligheid bly egter die belangrikste oorweging – ek sou dit self oorweeg indien ek geboer het.”

So ’n pendelboerdery tussen dorp en plaas is egter nie moontlik wanneer die plaas baie ver van ’n dorp af is nie. Du Toit sê ’n mens kan nooit genoeg doen om jouself te beveilig nie.

“Enige veiligheidsmaatreël of ’n kombinasie daarvan maak dit vir aanvallers moeiliker om die plaas te betree.”

Meer oor:  Bernadette Hall  |  Fochville  |  Misdaad  |  Verkragting  |  Plaasaanvalle  |  Roof  |  Plaasweduwee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.