’n Plaaswerker is in die hospitaal opgeneem nadat hy deur rowers op ’n plaas naby Delmas, oos van Johannesburg, aangerand is.
Marius Müller, AfriForum se veiligheidskoördineerder, sê ses rowers het die plaaswerker Sondag oorval en van stoorsleutels en sy selfoon beroof.
Die eienaar van die plaas was nie tuis nie.
Die rowers het die plaaswerker vasgebind, gereedskap uit die stoor gesteel en ’n veiligheidshek van die plaashuis daarmee oopgebreek, sê Müller.
“Die rowers het die kluis in die huis oopgebreek en drie wapens gevat,” sê hy.
Dit is onduidelik of nog iets gebuit is.
Die aanvallers is in ’n voertuig daar weg.
Die plaaswerker kon hom eers Maandag omstreeks 01:00 loswikkel en die plaaswag in die gebied in kennis stel, sê Müller.