Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Plase, hoewes loop deur oor Paastyd

Vir plaas- en hoewebewoners was Paasnaweek ’n bloedige tydperk waartydens drie moorde, ’n verkragting en talle erge aanrandings sedert Donderdag plaasgevind het.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê daar was die Paasnaweek 13 aanvalle op mense wat op plase en hoewes woon.

’n Jong boer van Hoopstad, Janus Powell, Farhad Moosa van Albert Falls en ’n plaaswerker van Potchefstroom is vermoor.

Janus Powell
Janus Powell en sy seun, JJ (3). Foto: Facebook

Die plaaswerker, wat vermoedelik doodgeslaan is, se naam is nie bekend gemaak nie omdat sy naasbestaandes nog ingelig moet word.

Powell is Saterdagaand deur mans, wat hulle voorgedoen het as polisielede, doodgeskiet.

Moosa, ’n sakeman wat ’n onderneming van sy plaas af bedryf het, is Donderdagaand in ’n gewapende rooftog doodgeskiet.

In nog ’n voorval buite Potchefstroom is die agtjarige Marlu Coetzee se neusbeen Donderdag tydens ’n gewapende roof vergruis.

Marlu Coetzee
Marlu Coetzee (8) na sy operasie kort voordat hy ontslaan is. Hy en pa Mario is op Vyfhoek-hoewe buite Potchefstroom aangeval. Foto: Verskaf

Marlu se pa, Mario, is ook ernstig in die aanval op die hoewe beseer en het ernstige kopbeserings opgedoen.

By Mamogalieskraal buite Brits is ’n 55-jarige man Vrydagoggend deur rowers op sy plaas aangeval. Die man is met ’n baksteen oor sy kop geslaan, waarna sy huis geplunder is.

’n 70-jarige vrou van ’n plaas tussen Redelinghuys en Piketberg is Vrydagaand in haar huis deur ’n man oorval en verkrag. Die bure het haar hoor skree en ’n 28-jarige verdagte is hegtenis geneem.

’n Bejaarde egpaar van Boekenhoutskloof buite Cullinan, James (84) en Lenie Leask (87), is Sondagaand deur rowers aangeval. Hulle ribbes is gebreek en hulle het verskeie kneuswonde opgedoen. Die beseerde egpaar het ure lank vasgebind gelê en kon eers Maandagoggend hulp ontbied.

’n Egpaar van ’n hoewe by St. Albans buite Port Elizabeth is Maandag in die vroeë oggendure in hul huis oorval. Die man (55) is in sy gesig met ’n mes gesteek, waarna hy en sy vrou (53) vasgebind is en vuurwapens, geld en ander waardevolle artikels gebuit is.

Cameron sê tot voor die naweek het vanjaar se syfers beter as verlede jaar s’n gelyk.

Verlede jaar was daar 14 plaasmoorde en 128 plaasaanvalle van Januarie tot April.

Tot voor die naweek was daar vanjaar 110 aanvalle en 11 moorde.

Die syfer lyk egter nou heel anders omdat die moordsyfer nou dieselfde as verlede jaar is. Met 13 aanvalle oor die Paasnaweek is die aanvalsyfer nou 123, net vyf minder as verlede jaar.

“Dit is die syfers, maar ’n mens moet onthou ’n seuntjie gaan nou sonder sy pa grootword, ’n ander kind is aangerand en oumense het ure vasgebind in pyn gelê,” sê Cameron.

Meer oor:  Ian Cameron  |  Paasnaweek  |  Hoewe-Aanvalle  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.