Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Plase loop steeds deur onder misdaad
Mieliediefstal bly ’n groot probleem in die Vrystaat en duur voort gedurende die inperkings.

Vir Vrystaatse boere het die huidige staat van inperking goeie en slegte nuus gebring wat misdaad betref.

Dr. Jane Buys, risiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), sê bykans die helfte van distrikte het gedurende die eerste week van die inperking geen misdaad ondervind nie terwyl ander gebiede meer of dieselfde hoeveelheid misdaad as gewoonlik ondervind het.

Boere van agt dorpe, Arlington, Bultfontein, Deneysville, Edenville, Hennenman, Oranjeville, Theunissen en Viljoenskroon, het gesê misdaad by hulle het gestyg.

Veediefstal en mieliediefstal bly boere se grootste probleem.

Arlington, Bethlehem, Brandfort, Clarens, Harrismith, Heilbron, Hennenman, Hobhouse, Philippolis, Soutpan, Steynsrus, Tweespruit, Ventersburg en Vrede se boere het twee of meer gevalle van veediefstal aangemeld en in sommige gevalle is tot soveel as 38 kalwers of 18 beeste op een slag gesteel.

Buys sê mieliediefstal kom gedurig voor en 22 Vrystaatse dorpe het gedurende die inperking onder mieliediewe deurgeloop.

Buys sê kinders word gebruik om mielies te steel. Hulle word by die lande afgelaai en ongeveer 80 mieliekoppe word in ’n streepsak gestop.

Hulle word dan weer met ’n bakkie gehaal en die mielies word in woonbuurte verkoop.

Kinders word dikwels gevang waar hulle besig is om mielies te steel.

“Buitelandse eienaars van spazawinkels verkoop ook die mielies aan klante,” sê Buys.

Boere voel dat daar dringend ingegryp moet word omdat kinders deur volwassenes ingespan word om misdaad te pleeg.

Die polisie het in Edenville, Hoopstad, Mafube, Reitz en Virginia mieliediewe aangekeer.

Buys sê daar word steeds inbrake op plase gepleeg en sonpanele, elektriese kabels, Eskom-transformators en skrootmetaal is selfs gedurende die inperkingstyd gesteel.

By Hobhouse is plaaswerkers deur aanvallers uit Lesotho beroof en heelwat oorgrensmisdaad word ook nog by

Ficksburg, Fouriesburg en Zastron gepleeg.

Buys sê daar is redes waarom misdaad kan toeneem of afneem tydens die inperkingstyd.

“Van die landelike veiligheidsverteenwoordigers glo dat die inperking tot ’n styging kan lei as dit langer duur.”

Sy sê polisiehulpbronne is onder druk omdat polisielede gebruik word om padblokkades te hou.

Boere kan ook minder tydelike werkers in diens neem om die risiko van die verspreiding van die Covid-19-virus te beperk wat daartoe kan lei dat mense steel om te oorleef.

Misdadigers is ook bewus daarvan dat boere ’n noodsaaklike diens lewer en moet aanhou met hul dagtake.

’n Verlengde inperking kan tot meer potslagting en mieliediefstal lei, sê sy.

Daar word ook gevrees dat die plunder van ondernemings, gewapende roof en ander eiendomsverwante misdaad kan toeneem.

Buys sê die polisie moet sy kapasiteit in landelike gebiede behou en uitbrei om boere te ondersteun deur onder meer snags te patrolleer en regulasies streng toe te pas.

Sy glo ook Paasnaweek kan meer verkeer in landelike gebiede meebring.

Meer oor:  Plase  |  Misdaad  |  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.