Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Pleeg swart artse meer bedrog?

Mediese fondse moet óf meer wit mediese praktisyns vind wat skuldig is aan bedrog, vermorsing en misbruik óf hulle moet sekere skuldige swart dokters met dié oortredings laat wegkom sodat die syfers verteenwoordigend kan wees van ras in die land.

Gabriel Crouse, skrywer en ontleder van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), sê dít is in wese wat ’n onafhanklike ondersoekpaneel sê wat dié week bevind het die mediese fondse en -administrateurs Discovery Health, Medscheme en die staat se mediese fonds, Gems, diskrimineer onregverdig teen swart dokters wanneer dit kom by bedrog, vermorsing en misbruik van mediese fondse se geld.

Hy sê die verslag fokus op die ongelykheid in uitkomste, maar stel nie vas of bedrog, vermorsing en misbruik proporsioneel deur alle rassegroepe gepleeg word nie.

Gems, Discovery Health en Medscheme het ál drie die bevinding ten sterkste ontken.

Fondse ontken die bevinding ten sterkste.

Adv. Tembeka Ngcukaitobi, voorsitter van die paneel, en sy span gee in die verslag toe daar is nie bewyse van eksplisiete rassevooroordeel in die algoritmes wat gebruik word vir die geoutomatiseerde stelsels wat moontlik onreëlmatige eise moet bespeur nie.

Die paneel is in 2019 aangestel ná klagtes van onder meer die Vereniging van Beroepslui in die Gesondheidsorgbedryf by die Raad op Mediese Skemas oor beweerde rassediskriminasie teen swart, bruin en Indiërpraktisyns met die uitbetaling van eise omdat hulle van bedrog of misbruik verdink word. Dit was nadat die Raad vir Gesondheidsberoepe gesê het daar was in Mei en Junie 2019 net vyf bedrogklagte van lede van die publiek teen swart dokters en 11 teen wit dokters. Tog het mediese fondse 25 bedrogsake teen swart dokters aanhangig gemaak en een teen ’n wit dokter.

Ngcukaitobi sê tussen 2012 en 2019 was die kans dat swart praktisyns vir bedrog of misbruik gemerk word 1,4 keer groter as wat dit vir wit praktisyns in alle dissiplines was. Hy skryf dit toe aan onregverdige rassediskriminasie.

d
d

Volgens Ngcukaitobi is die kans dat dié verspreiding bloot toevallig is, vir “alle praktiese doeleindes zero”.

Daar is ook bevind:

* Discovery Health, wat 19 mediese fondse administreer, is 35% meer geneig om swart dokters as bedrieglik te klassifiseer;

* Gems, die tweede grootste mediese skema in die land met meer as 1,8 miljoen begunstigdes, is 80% meer geneig; en

* Medscheme, wat 13 fondse soos Bonitas, Polmed en Med­shield administreer, is 330% meer geneig daartoe.

Die paneel eis dat die drie swart praktisyns om verskoning vra.

Die ondersoekpaneel sê in sy verslag die kwessie is nie een van konflik tussen mediese skemas en diensverskaffers nie, maar weerspieël eerder ’n kloof wat uit die land se verlede spruit.

Lee Callakoppen, hoofbeampte van die mediese fonds Bonitas, sê egter op ’n tyd wat almal in die gesondheidsorgstelsel moet saamwerk, kan die verslag polarisasie tussen rolspelers bring.

Die paneel beveel aan dat mediese fondse en administrateurs maatreëls instel om onbillike diskriminasie uit te skakel, jaarlikse rasse-impakstudies oor die uitwerking van hul beleid doen en verseker daar is diversiteit in hul spanne wat beleid ontwikkel.

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) sê die bevindinge moet ondersoek word.

Die paneel ontken nie dat bedrog, vermorsing en misbruik in die mediesefondsbedryf ’n probleem is nie.

Tot 15% van eise wat mediese fondse jaarliks uitbetaal, is vals, wat ’n verlies van sowat R28 miljard per jaar van mediesefondslede se geld beteken.

Discovery Health sê tussen 2012 en 2018 het lede van mediese fondse onder sy administrasie meer as R7,8 miljard teruggekry danksy suksesvolle forensiese prosesse teen bedrog. Dié sukses het as afskrikmiddel gedien en tot gedragsveranderinge gelei, wat ’n geskatte verdere R6,3 miljard gespaar het.

Sommige fondse sê lede se premies kan tot 14% hoër wees as bedrog nie in toom gehou word nie. Die bedrog sluit in opgeblase eise, misbruik van mediesefonds-lidmaatskapkaarte deur familielede wat nie lede van die fonds is nie, eise vir dienste nie gelewer nie, en eise vir items waarvoor nie geëis kan word nie soos kosmetiese middels by apteke.

Discovery sê die paneel het erken daar is geen bewyse van opsetlike, uitdruklike rassevooroordeel in die metodes en algoritmes wat gebruik word nie.

Die konstitusionele kenner prof. Pierre de Vos sê kritici van die verslag verstaan die bevindinge nie. “Die verslag sê nié regmatige ondersoeke na euwels is rassisties omdat dit meer swart kwaaddoeners identifiseer nie, dit sê mediese fondse het nie bewys dat die ondersoeke regverdig (equitable) en regmatig was nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.