Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Plek waar Angus Buchan preek, nou met lyke besaai

Is die groot Swartklip-sportterrein in Tafelsig, Mitchells Plain, ontspanningsgeriewe of ’n stortingsterrein vir lyke, wil Shanaaz Allie (59), stigter van die Mosadie Gives Back- niewinsgewende organisasie weet.

Shanaaz Allie het van haar kombuisteëls op Stacha Arendse se gedenksteen gesit. Foto: Edrea du Toit

Drie jaar gelede het die aartappelprediker Angus Buchan met ’n biddag ’n reuseskare getrek op die einste sportterrein. Verlede week het ’n seuntjie wat op die netbalbaan besaai met ou motorbande gespeel het, op die geraamte van ’n onbekende vrou afgekom.

Net 50 meter van waar Buchan se gazebo gestaan het, is ’n gedenkteken vir Stacha Arendse. Die 11-jarige is die jaar voor die biddag deur ’n buurman ontvoer, verkrag en vermoor voordat haar liggaam in die sand hier begrawe is.

Randy Tango is drie keer lewenslange tronkstraf opgelê vir dié daad.

Arendse se naakte lyk is destyds sowat 100 meter van Allie se huis gevind.

Allie het ’n paar jaar gelde haar haarsalon in Seepunt in ander se hande gelos om haar voltyds toe te spits op liefdadigheidswerk.

Haar huis in Theresestraat is omskep in ’n sopkombuis. In die motorhuis is ’n reusekombuis en in twee kamers staan bokse vol proviand.

Stad wil werkbare oplossings vind.

Die huis is langs die omstrede sportterrein en sy sê dit het oor die jare heen ’n vullisterrein en stortingsplek vir lyke geword. In die bykans 30 jaar wat sy hier woon, is daar al ses lyke in die omgewing gevind, sê sy.

Die buurt is geleë in die suidelike hoek van Mitchells Plain en teenaan Baden Powell-rylaan, waar die kus ook berug is daarvoor dat lyke hier gelos word.

Aan die oorkant van die sportterrein is plakkershutte, wat die afgelope jaar vanuit Khayelitsha nader kruip.

Langs Stacha se gedenkteken is die netbalbaan wat oor naweke deur motor­entoesiaste gebruik word om tussen hope ou motorbande te dice, sê Allie. Sy het al artificial sokkerpale gemaak en sokkerwedstryde vir die buurt se kinders op die terrein gereël. Vervoer en sokkerwedstryde tot in Seepunt is vir die kinders gereël.

“Die minderbevoorregte kinders kry nie die geleentheid om uit Tafelsig te kom nie,” sê sy.

Sy het onlangs ’n groentetuin langs die sportterrein probeer maak, maar dié handewerk is oornag vernietig.

Die buurt sukkel ook met die onwettige stort van bourommel en vullis op die sportterrein.

“Jy kan nie ’n bord kos maak nie, dan val daar ’n vlieg in!” sê Allie. Sy het selfs al swart sakke gekoop, R10-note in plastiekbanksakkies gesit en mense gevra om die vullis op die terrein op te tel.

“Die mense dump vullis en ook bodies op die gronde. In die tyd dat ek hier bly, is daar al ses bodies hier gevind. Álles word hier gedump. Gisteraand was ons by die security op die veld. Hulle slaap!”

Die afgelope Vrydag het ’n vragmotor, stootskraper en tenkwa van die vullis en motorbande op die netbalbaan opgeruim.

“Die gaan egter nie oor net een keer opruim nie. Die city moet ’n program het, sodat die gronde altyd skoon én veilig gehou word. Ons soek ’n werkbare oplossing en wil met die stad werk aan oplossings, sodat veral die kinders voordeel trek,” sê Allie.

Volgens raadslid Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, word die sportterrein vir sokkerwedstryde, netbaloefeninge en ook deur vier skole gebruik in hul atletiekseisoen. Ongelukkig is daar nie ’n grensheining nie en word die terrein ongemagtig gebruik buite kantoorure, sê hy.

“Oor tyd is ’n aantal insidente by die polisie aangemeld van lyke wat aan die buitekant van die sportgronde, veral oor naweke, gevind is.”

Volgens hom is daar gate in die heining en dit veroorsaak dat die grense tussen die sportveld en die aangrensende woonbuurt nie duidelik is nie. Daar is ook digte plantegroei hier.

“Twee sekuriteitswagte patrolleer die gronde bedags en twee snags. Die sportvelde is ’n baie groot stuk grond en dis ongelukkig nie bekostigbaar of volhoubaar om dit met duur private sekuriteit te beveilig nie.”

Badroodien sê 95% van die bestaande heining is oor die jare heen verniel of gesteel. ’n Motivering vir die finansiering van ’n betonmuur is ingedien vir die 2021-’22-boekjaar. Die stad wil saam met die gemeenskap werk om werkbare oplossings te vind, sê hy.

Meer oor:  Angus Buchan  |  Stacha Arendse  |  Mitchells Plain
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.