Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie bekommerd oor misdadigers wat ontsnap

Die ontsnapping van gevaarlike misdadigers en voorvalle van geweld wat howe landwyd teister, is ’n groot bron van kommer vir die regering, het Bheki Cele, minister van polisie, Donderdag op ’n nuuskonferensie by die parlement erken.

Dit was in reaksie op vrae nadat Mongezi Mcunukelwa (31), ’n vermeende reeksmoordenaar, en Sbonelo Nkosingiphe Thwala (25), wat vir moord teregstaan, Woensdagmiddag by die hooggeregshof in Johannesburg ontsnap het en steeds soek is.

Bheki Cele. Foto: Jaco Marais

Cele is oor geweld in die howe uitgevra, veral nadat ’n polisielid verlede week eers sy vervreemde vrou en sy swaer in ’n skeihof in Durban doodgeskiet en toe ook homself geskiet het.

Cele en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, sowel as verteenwoordigers van die twee polisievakbonde, Popcru en Sapu, het Donderdag die nuuskonferensie gehou om aan te kondig dat sowat 34 000 polisielede in die huidige boekjaar bevorder sal word.

Dit is nadat Cele in sy begrotingsrede vir 2018-’19 vroeër vanjaar aangekondig het dat daar ’n agterstand van 69 219 polisielede tussen vlak 5 en vlak 7 is wat bevorder moet word omdat hulle al vir te lank in hul huidige range dien.

Volgens Cele is daar na deeglike onderhandelinge met Popcru en Sapu ooreengekom dat daar in die huidige boekjaar sowat 34 000 polisiebeamptes bevorder sal word.

Die res sal in die volgende twee boekjare bevorder word.

Sitole sê dat bogenoemde getal ook die hergradering van lede in die polisie se spesiale taakspan sal insluit wat na adjudant-offisier hergradeer sal word.

Lede in die nasionale ingrypingseenheid sal na sersant bevorder word, sowel as diegene wat in die taktiese reaksie-eenheid dien.

Ons is ongetwyfeld baie bekommerd oor wat nou gebeur. Ek is ingelig dat een van die ontsnaptes (van Woensdag) ’n reeksmoordenaar is. Dit is veral erg omdat talle polisielede met die ondersoek van dié saak betrokke was.
Bheki Cele

Polisielede in die beskermingseenheid sal na sersant en adjudant-offisier hergradeer word.

Die bevorderings en hergradering sal tussen 30 November en 31 Maart 2019 gedoen word.

Geld daarvoor sal uit die polisie se 2018-’19-begroting van R91,8 miljard geherprioritiseer word, verseker Sitole.

Oor die ontsnappings en geweld by die howe sê Cele dat die regering en die polisie bekommerd is oor “enigiets wat abnormaal” is.

“Dit sal mal wees om te sê ons is nie bekommerd daaroor nie.”

Volgens Cele het hy en adv. Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, ooreengekom om binnekort te vergader om bogenoemde kwessie te bespreek omdat dit onder albei se portefeuljes val.

“Ek wil daarom nie daardie gesprekke vooruitgaan nie. Maar die versterking van veiligheid in die howe sal die samewerking van die polisie en justisie vereis. As ministers in die strafregstelsel het ons al vroeër oor die kwessie vergader omdat sommige kwessies nie net deur een sektor in die groep aangepak kan word nie.

“Ons is ongetwyfeld baie bekommerd oor wat nou gebeur. Ek is ingelig dat een van die ontsnaptes (van Woensdag) ’n reeksmoordenaar is. Dit is veral erg omdat talle polisielede met die ondersoek van dié saak betrokke was.

“Maar ons sal as ’n groep almal saamwerk in ons benadering van dié kwessies,” sê Cele.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.