Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie, boere werk saam, trek 3 vas ná inbraak

Goeie samewerking tussen die polisie en plaaslike landbougemeenskap het gelei tot die inhegtenisneming van drie mans wat glo kontant, kos en drank by ’n plaashuis in die Karoo gesteel het.

Hulle het Woensdag om 23:25 op ’n plaas in die Steytlerville-distrik in die Oos-Kaap toegeslaan, terwyl die eienaars in die Paarl in die Wes-Kaap is.

Die polisie het gereageer nadat ’n plaaswerker hulle gekontak het, het kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, gesê.

Die inbrekers het glo die kluis in die huis oopgebreek en kontant gesteel.

Swart het gesê ’n 19-jarige man is dieselfde aand nog naby die plaashuis vasgetrek. Hy is met drank, kontant en kos in sy besit betrap. Dié goedere is vermoedelik alles uit die plaashuis gesteel.

Die ander twee inbrekers het die aand weggehardloop en in die veld verdwyn.

Teen Donderdagoggend het die polisie nog inligting opgevolg en twee verdagtes, van onderskeidelik 17 en 33 jaar oud, op die dorp by hul huise aangekeer.

Volgens ’n betroubare bron is een van die drie al voorheen vir huisbraak by ’n plaashuis in die distrik in hegtenis geneem.

Peter Knoesen, voorsitter van die Steytlerville-landbouvereniging, het in reaksie gesê hy is tevrede met die paraatheid van die boeregemeenskap tydens dié voorval.

“Ons het die sektorpolisie hier wat deur die hele distrik strek en baie goeie radio-kommunikasie.”

Só was paaie rondom die betrokke plaas binne minute afgesper, vir ingeval die inbrekers in ’n voertuig sou probeer vlug.

“Die boere en sektor-groep het baie vinnig gereageer en was gou op die toneel om te help. Ons werk goed saam met die polisie. Ons het mekaar nodig.”

Volgens Swart sal die verdagtes Vrydag op ’n aanklag van huisbraak in die streekhof in Steytlerville verskyn.

Brig. Ronald Koll, waarnemende bevelvoerder van die Uitenhage-polisiegebied, het die gemeenskap bedank vir hul spoedige reaksie om die polisie te kontak, asook die polisiebeamptes vir die suksesvolle arrestasie geprys.

Meer oor:  Inbraak  |  Karoo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.