
Die foto van Tazne van Wyk is in haar oumagrootjie se sitkamer opgeplak. Foto: Jaco Marais

Hier is Tazne van Wyk se lyk Woensdagaand naby die Mosh-vulstasie buite Worcester gevind. Foto: Breyten Cupido/Worcester Standard

Tazne van Wyk se lyk is Woensdagaand naby die Mosh-vulstasie buite Worcester gevind. Foto: Kevi Van Wyk

Moyhdine Pangarker (54), Tazne van Wyk se vermeende ontvoerder en moordenaar, eet brood en drink koffie in ’n polisiesel waar hy aangehou word. Foto: Verskaf
Tazne van Wyk (8) is vermoedelik binne die eerste 24 uur vandat sy by ’n snoepwinkel oorkant haar ouerhuis in Clarestraat, Connaught Estate, Elsiesrivier in Kaapstad ontvoer is, vermoor.
Tazne het op 7 Februarie vermis geraak.
’n Lykskouing wat Donderdag op haar gedoen is, het volgens bronne kopbeserings gewys, maar die lyk is glo te ver ontbind om die presiese oorsaak van dood te wys of presies wanneer sy vermoor is.
Een bron sê dat haar linkerhandjie nie aan die lyk is nie. Daar kon met die lykskouing ook nie vasgestel word of sy seksueel aangerand is nie.
Moyhdine Pangarker (54), haar vermeende ontvoerder en moordenaar, het speurders Woensdagaand na die plek waar haar lyk gegooi is, geneem.
Die speurders en lede van die polisie se forensiese afdeling het haar ontbinde lyk kort ná 23:00 uit ’n stormwaterdrein langs die N1 buite Worcester gehaal.

Die ingang na die stormwaterdrein waar Tazne van Wyk se lyk Woensdagaand gevind is. Foto: Kevi van Wyk

Die stormwaterdrein waar Tazne van Wyk se lyk Woensdagaand gevind is. Foto: Kevi van Wyk

Die Breedevallei-munisipaliteit se burgemeester, Antoinette Steyn, het Donderdag blomme en kruis by die toneel waar Tazne van Wyk se lyk Woensdagaand gevind is, gaan plaas. Foto: Antoinette Steyn/Facebook
Die bron sê die polisie het Donderdag weer na die toneel teruggekeer om seker te maak dat hulle niks gemis het nie.
Die polisie probeer glo nog uitpluis waar en hoe Tazne vermoor is en hoe haar lyk tot in Worcester gekom het.
Kevi van Wyk, ’n inwoner van Worcester, het Donderdag gesê daar het ’n ondraaglike doodsreuk oor die stormwaterdrein gehang.
Van Wyk is na die toneel nadat die polisie daar weg is. Van Wyk was deel van ’n soekgeselskap van mans wat hulle die naweek wat Tazne vermis geraak het, na Ladismith gehaas het om na haar te gaan help soek nadat daar gerugte was dat Pangarker in Ladismith met die kind gesien is.
’n Bron sê daar was baie druk uit senior Wes-Kaapse polisiegeledere dat die lykskouing so vinnig moontlik gedoen moes word.
Pangarker is Maandag in Cradock in die Oos-Kaap in hegtenis geneem. Hy het Dinsdag in die landdroshof in Cradock op ’n aanklag van ontvoering verskyn. Hy verskyn Vrydag in die landdroshof in Goodwood op aanklagte van ontvoering en moord. Nog aanklagte kan bygevoeg word.
'n Boodskap vir Tazne
Intussen het Antoinette Steyn, burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit in Worcester, ’n hartroerende boodskap vir Tazne op haar Facebookblad geskryf.
“Dierbare Tazne van Wyk, nooit sou ek vanoggend dink dat ek begroet sou word met die opskrif . . . jy is gevind in Worcester . . . baie emosies vandag in my hart . . . jy was nie my kind nie maar ek het daai seer wat ’n ma het wat haar kind verloor in my hart en die trane kon ek nie keer . . . jy’s 8j oud gewees en jou lewe het tot ’n end gekom in ’n pyp waar net die reuk van dood hang vandag . . .
“Ek weet jou mammie kon nie kom groet het vanoggend vir jou of jou daddy maar ek het kom groet namens hulle vir jou en hulle sal nog kom om totsiens te kom sê . . . ek bid vandag vir jou ouers en familie en hoop dat die gereg sal weet wat om te doen want geen een verdien dit om so te sterf . . .
“My boodskap as ’n ma vandag aan jou ouers . . .eks jammer dat jul kind so moes sterf . . . ek het vir haar blomme geneem namens julle en ’n kruis gaan lê sodat ons weet sy is veilig by Jesus se voete . . .”