Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie-waghond ‘gaan nie Alberton-man se verdwyning ondersoek’

Die onafhanklike polisie­ondersoekdirektoraat (Opod) wat klagte van wandade teen polisie ondersoek, gaan nie ’n bewering ondersoek dat polisielede betrokke was by die verdwyning van Trevor Erasmus (73) van Alberton nie. 

Dit volg nadat Paul O’Sullivan, private forensiese ondersoeker, Saterdag bevestig het Erasmus is sedert Vrydag terug by sy familie.

Hy het by navraag ook beweer lede van die polisie kan betrokke wees by Erasmus se verdwyning. 

“Ons het die beloning van R200 000 wat oorspronklik uitgeloof, is verhoog tot R250 000. Dié beloning is vir enige inligting wat kan lei tot die suksesvolle vervolging van mense wat betrokke was.”

Hy wou niks verder sê oor die moontlike betrokkenheid van polisiebeamptes nie.

Sontaga Seisa, Opod-woordvoerder, het Saterdagmiddag by navraag gesê Opod gaan nie betrokke raak nie, want ontvoering val nie binne sy mandaat nie.

“Die saak sal waarskynlik deur die polisie ondersoek word.” 

O’Sullivan wou niks sê oor die gebeure wat gelei het tot Erasmus se terugkeer nie, omdat nader besonderhede en leidrade wat in die media bekend gemaak word oor waar hy gevind is, of hy seergemaak is, wat hy onthou van sy verdwyning en waar hy aangehou is, glo die ondersoek kan belemmer.

’n Beloning van R200 000 is uitgeloof toe Trevor Erasmus verdwyn. Dié beloning is Saterdag met R50 000 vermeerder. Foto: Verskaf

Hy het ook vir Erasmus se familie gesê om in dié stadium nie met die media te praat nie, omdat hulle sy ontvoerders vinnig wil vastrek. 

Erasmus is op 31 Januarie in die suide van Johannesburg oorrompel en ontvoer. 

Hy het op die dag van sy verdwyning sy kantoor in City Deep gesluit om huis toe te gaan. Hy het egter nooit daar uitgekom nie.

Die onderneming waar Erasmus werk, verskaf diamant-slyp-toerusting.

Sy motor is naby sy kantoor gesluit gevind en sy selfoon is in Swartkoppieslaan in Brackendowns, Alberton, gevind.

Die polisie kan nie sê of Erasmus se ontvoering verband hou met sy werk nie. Kapt. Kay Makhubele, polisiewoordvoerder, het Saterdagoggend by navraag onderneem om nader besonderhede te kry.

Hy kon egter ure later geen bevestiging gee nie, en het ook nie gereageer op navrae oor die bewerings wat teenoor die polisie gerig is nie.  

Kort ná Erasmus se ontvoering destyds is daar glo R10 miljoen geëis vir sy vrylating. 

Dit het talle vrae laat ontstaan omdat Erasmus se gesin volgens bronne nie welaf is nie.

O’Sullivan het benadruk dat Erasmus en sy familie vir eers vra dat almal hul privaatheid moet respekteer.Die polisie se kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Meer oor:  Alberton  |  Trevor Erasmus  |  Ontvoering  |  Verdwyning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.