Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie fynkam Naka-skiettoneel vir leidrade

Bloedspatsels, ’n onderstebo braaier, gebreekte eetgerei en koeëldoppies: Alles bewyse van die geweld Donderdag toe Naka Drotské, oud-Springbok, in ’n rooftog geskiet is.

Naka het saam met sy vriend en sakevennoot Os du Randt by sy (Naka se) broer Tinus op dié se kleinhoewe in Kameeldrift in die noord-ooste van Pretoria gekuier. Naka en Os was albei in die Springbokspan wat in 1995 as wêreldbekerkampioene gekroon is.

Tinus Drotské staan op die houtdek voor sy huis waar sy broer Naka Donderdagaand deur gewapende rowers geskiet is. Foto: DEAAN VIVIER

Die braaivleis was pas gaar en die vriende het aangesit vir ete in die eetkamer wat uitloop op die houtdek. Toe bars alle hel los.

Só het rowers ingekom

Ian Cameron, veiligheidskoördineerder van AfriForum, sê die rowers het vermoedelik oor die erf se agterste heining gespring.

Dié draadheining is nie vreeslik hoog nie, en is sowat 30 m van die houtdek af, in die hoek van die erf.

Van die houtdek af is dié deel van die heining verberg agter die deel van die huis waar die slaapkamers geleë is.

Die aanvallers het vermoedelik al teen die heining en teen die slaapkamers se muur gehou.

Toe kom hulle om die hoek, spring op die houtdek en bars by die glasdeur in. Naka het die rowers bo-oor die tafel tot op die houtdek geduik. Os het ook opgespring om Naka te help, al is hy toe deur die rowers met traangas in die oë gespuit.

Eers nadat die rowers verjaag is, het hulle besef Naka is raakgeskiet. In die deur tussen die eetkamer en die oopplan-kombuis was bloedspatsels Vrydag op die vloer sigbaar.

Taakspan op die toneel

’n Spesiale taakspan van die polisie fynkam Vrydagoggend die toneel vir ’n tweede keer vir leidrade.

Voor die huis, op ’n reëling van houtpaaltjies is ’n handskoen wat ingeneem word vir verdere forensiese toetse.

Koeëldoppies van waarskuwingskote wat deur ’n buurman geskiet is. Foto: DEAAN VIVIER
’n Lid van die polisie se forensiese ondersoekspan tel Vrydagoggend ’n koeëldoppie op voor die huis van Tinus Drotské.Foto: DEAAN VIVIER

Dit kan dalk behoort aan een van die aanvallers wat dié verloor het toe hy op die reling gedruk het om oor te spring.

Net voor die huis het die polisie ook patroondoppies bymekaar gemaak. Dié kom glo van ’n buurman wat waarskuwingskote geskiet het toe hy die gille en skote by Tinus se huis hoor.

Kameeldrift ‘loop deur onder geweldsmisdaad’

Terwyl die polisie die toneel deursoek, hou Manie Enterest (62), een van die bure, die bedrywighede fyn dop. Sy kleinhoewe is sowat ’n kilometer van Tinus se huis af.

Net meer as twee maande gelede, op 23 September, is sy vrou, Marlet (61), deur rowers doodgeskiet.

Hy, sy vrou, hul dogter en kleindogter is deur twee mans oorval wat hulle vasgebind het.

Manie vertel hy en sy vrou het daardie aand in aparte kamers geslaap en voordat hy kon loskom en haar kon help, is sy deur een van die rowers doodgeskiet.

Die rowers het met kontant en selfone op die vlug geslaan.

Manie is bitter oor die saak.

Manie Enterest (62) se vrou, Marlet, is in September in ’n rooftog doodgeskiet. Hulle bly sowat ’n kilometer van die kleinhoewe af waar Naka Drotské Donderdag deur rowers geskiet is. Foto: DEAAN VIVIER

“Niemand is nog gevang nie. Die mense by Kameeldrift se polisiestasie doen niks aan die saak nie. Ek moes drie weke ná die tyd bewyse vir hulle vat wat hulle nie op die toneel bymekaar gemaak het nie,” sê Manie.

Hy sê die Kameeldrift-gemeenskap beleef ’n vlaag van misdaad.

Tinus beaam dit en noem ’n rits voorvalle van die afgelope ruk.

“Hier is ’n oom (Manie) wie se vrou twee maande terug doodgeskiet is, hier is ’n ou wat in die bors gesteek is met ’n mes, ons het ’n rooftog gehad. Gelukkig was ons agter die veiligheidshekke toegesluit en het nie wakker geword nie.

“My buurman wat net langs my bly, is beroof, hy het die mense in sy huis betrap en skote afgevuur. En drie dae terug is hier ook ingebreek . . . ek weet nie meer wat om te sê nie . . . iewers moet dit stop,” sê Tinus.

Hy gaan nie weer terug na die huis nie, behalwe om sy trek te kry.

“Waar het jy gesien ’n mens kan nie eens meer braai nie.”

Polisie reageer

Genl.maj. André Wiese, gebiedsbevelvoerder van die polisie in Tshwane-Oos, sê ál die sake in Kameeldrift word ondersoek.

Hy het bevestig dat twee verdagtes aangekeer is en ondervra word in verband met die gewapende roof waarin Naka geskiet is. Wiese sê die moord op Marlet Enterest word ook dringend ondersoek.

AfriForum wil hê die polisie moet reserviste behoorlik oplei.

“Spesifiek in Kameeldrift wil ons hê die polisie moet reserviste beter oplei. Die polisie kla dat hulle nie kapasiteit het nie, maar hulle doen nie genoeg moeite om seker te maak dat mense wat vrywillig wil werk, die nodige opleiding kry nie,” sê Ian Cameron van AfriForum.

Die organisasie ook gereël dat Tinus en sy familie berading ontvang.

Gebreekte borde en eetgerei lê op die houtdek waar die aanvallers die huis binnegebars het. Foto: DEAAN VIVIER
Bloedspatsels teen die kosyn in die huis waar Naka Drotske deur drie rowers geskiet is. Foto: DEAAN VIVIER

Meer oor:  Naka Drotské
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.