Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie gaan nie hande gevou sit, sê Cele in Bfn
Polisielede doen hul pelotondril in die Bloemfonteinse middestad ten tyde van verrigtinge met Bheki Cele, minister van polisie, se besoek.Foto’s: marita herselman

Die polisie gaan nie hande gevou sit wanneer misdadigers hulle en die gemeenskap aanval nie. Lede wend hul toerusting binne die wet aan om almal te beskerm.

So het Bheki Cele, minister van polisie, Saterdag in Bloemfontein aan polisielede gesê tydens ’n besoek as deel van sy landwye Veilige Feestyd-toer.

Cele het ook in die middestad inwoners se nakoming van Covid-19-reëls gekontroleer en hulle berispe as hulle versuim het om dit na te kom.

Hy het ook die oorhandiging van 136 nuwe voertuie aan die Vrystaatse polisie behartig.

Talle polisie-optredes in en rondom Bloemfontein as deel van die beveiligingsveldtog in die vakansietyd is aangepak. Altesaam 325 verdagtes is oor die provinsie heen in aanloop tot die feestyd aangekeer.

Cele het in sy toespraak op Hoffmanplein aan lede gesê dit is hul plig om hoop vir Suid-Afrikaners te bring deurdat hulle landsburgers op die paaie, tuis en waar ook al beveilig.

Hy sê die Grondwet – en nie hy of die president nie – bepaal die polisie se taakbeskrywing. Polisiëring geskied ingevolge die handves van menseregte. “Ek herinner mense altyd daaraan dat polisielede ook mense is, wat beteken jy het menseregte.

“Soos die wet dit stel, veral artikel 49 in die Strafproseswet, moet jy Suid-Afrikaners beskerm as hulle aangeval word of in gevaar is. Jy moet hul regte beskerm, maar jy moet ook jouself beskerm,” het hy aan die polisiebeamptes gesê.

Bheki Cele, minister van polisie, eergister in Bloemfontein se middestad.

Cele het veral die hantering van geslagsgebaseerde geweld benadruk. Beamptes moet dié voorvalle prioritiseer.

Hy het manlike polisielede aangesê om hul vroulike kollegas te respekteer. Die polisievroue is ten volle bekwaam en toegerus om hul taak te verrig.

Volgens lt.genl. Baile Mo­tswenyane, Vrystaatse polisiekommissaris, is altesaam 136 nuwe voertuie ontvang, waarvan 55 op die perseel was en net vyf simbolies deur Cele oorhandig is.

Volgens kol. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder, het speurders oor die provinsie heen ter voorbereiding op die feestyd 325 verdagtes aangekeer in verband met misdade soos onder meer verkragting, veediefstal, moord, inbraak en seksuele aanranding.

Mbambo het gesê talle polisie-optredes Saterdag het ook vrugte afgewerp, insluitende padversperrings op die N8 na Thaba Nchu.

“Altesaam 21 mense sonder dokumente is in hegtenis geneem en nog drie is vir dwelmhandel aangekeer. Drie voertuie is geskut, insluitende twee staatsvoertuie wat ongemagtig bestuur is, en ’n taxi sonder ’n permit. Een mens is vir dronkbestuur aangekeer.”

  • ’n 40-jarige buitelandse man, sy 27-jarige meisie en ’n 38-jarige buitelandse man is aangekeer nadat dwelms met ’n geraamde straatwaarde van R1 miljoen gevind is. Hulle sal vandag in die hof verskyn. Nog ’n berig, foto’s op bl. 4.
Meer oor:  Bheki Cele  |  Bloemfontein  |  Misdaad  |  Gendergeweld  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.