Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie 'het geweet van ammunisie in Durbanse hawe'

Polisielede wat by die Durbanse hawe werk, het glo geweet van die inhoud van die vraghouer van Formalito Edms. Bpk. wat op 10 Julie om 11:06 van Singapoer af by dié hawe aangekom het.

Marco van Niekerk, uitvoerende hoof van Outdoor Investment Holdings, het Maandag gesê hulle het reeds op 6 Julie ’n volledige stel dokumente van die besending vir die polisie gegee.

“Dit is aanvaar en as sodanig was hulle deeglik bewus van wat in die Durbanse hawe sou aankom,” sê Van Niekerk.

Outdoor Investment Holdings is die beheermaatskappy van Formalito, wat die ammunisie ingevoer het.

Van Niekerk het verder gesê voorheen is soortgelyke besendings wat in Durban aangekom het onder embargo vrygestel vir inspeksie in Johannesburg of Pretoria. Hulle het glo verskeie versoeke aan die polisie gerig om die besending vry te stel.

“Maar hulle het daarop aangedring dat die inspeksie in Durban moet plaasvind en het die besending na ’n plaaslike vraghouerperseel in Durban gestuur.”

Hy het ook gesê dat die vraghouer waarin die ammunisie was, verseël was met ’n permanente seël wat slegs onder polisietoesig in die stadium van in- en uitvoer gebreek kan word.

Ammunisie

Volgens Van Niekerk is meer as 1 miljoen patrone gesteel.

“Die meeste daarvan was 9 mm-patrone wat verkoop sou word aan private individue, wetstoepassers en private veiligheidsmaatskappye.”

Inligting wat Netwerk24 bekom het, wys daarop dat meer as 1,9 miljoen patrone vir die volgende kaliber vuurwapens gesteel is: 9 mm-Luger, .38 Special, .357 Magnum en .44 Remington Magnum.

11 Julie

Van Niekerk sê die besending is die aand van 11 Julie deur gewapende veiligheidsmense na die vraghouerperseel geneem.

“Weens die aard van die vrag kon dit nie in die hawe bly nie,” sê hy.

“Dit was ook onmoontlik om die besending direk by die inspeksiedepot af te lewer omdat dit gesluit was weens die onluste en geweld wat plaasgevind het.”

12 Julie

Die volgende dag, Maandag 12 Julie, is die polisie weer ingelig dat die besending wag om geïnspekteer te word. Die vraghouer is egter twee dae later op Woensdag 14 Julie geplunder nog voordat dit geïnspekteer kon word of deur doeane vrygelaat kon word.

“As jy die datums in ag neem, is dit duidelik daar was geen haas aan die kant van die owerhede nie.”

Van Niekerk sê hul onderneming voer al meer as 55 jaar vuurwapens en ammunisie in en verkoop dit.

“Ons verstaan die ingewikkeldhede hiervan goed.”

Die polisie

Die polisie handhaaf ’n dawerende stilte oor die diefstal.

Bronne het Maandag gesê dis te verwagte dat die polisie niks oor die diefstal sal sê nie omdat dit onder hul oog plaasgevind het.

Die bronne sê ook daar was geen bewaking of veiligheid vir die vraghouer nie. Dit het ook nie, soos vroeër elders berig is, op twee ander vraghouers gestaan nie. Volgens die bron was dit op ’n sleepwa.

Netwerk24 het vroeër berig dat die vraghouer volgens die vragbrief uit Singapoer gekom het.

Kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, sê die diefstal en herwinning van ammunisie tydens die onluste is een van die sake wat tans ondersoek word.

“Om die ondersoek nie te belemmer nie, sal ons in dié stadium nie kommentaar kan lewer nie,” sê sy.


Meer oor:  Ammunisie  |  Gesteel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.