Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie-hoës ‘gaan self in polisiekantore werk’

Die nasionale polisiekommissaris en provinsiale polisiehoofde gaan hul moue oprol en self in polisiekantore diens doen.

Cassel Mathale, adjunkminister van polisie, het dié onderneming Woensdagmiddag aan inwoners van Bloemspruit, Bloemfontein, gegee op ’n ministeriële imbizo wat hier gehou is.

Die Bloemspruit-omgewing is ’n brandpunt vir seksmisdade met 157 verkragtings en 18 seksuele aanrandings wat in die boekjaar 2018-’19 hier aangemeld is.

Cassel Mathale, adjunkminister van polisie, spreek Woensdagmiddag inwoners toe op ’n imbizo in die Grasland-gemeenskapsaal in Bloemspruit, Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

Mathale het aan die volgepakte gemeenskapsaal gesê daar is onlangs op ’n ministeriële vergadering ooreengekom dat senior bestuurslede van die polisie nie meer in hul kantore by die hoofkantoor of provinsiale kantore gaan sit nie – hulle moet in die voorste linies wees.

“Die nasionale kommissaris (genl. Khehla Sitole) moet vir ’n sekere tydperk by ’n polisiekantoor gaan werk sodat hy daar is waar diens gelewer word. Die provinsiale kommissarisse moet dieselfde doen en die minister (Bheki Cele) moet van voor af lei.”

Mathale sê op dié vergadering is daar ook ’n aksieplan opgestel waarin onder meer aandag gegee word aan waar, wanneer en hoe misdade gepleeg word. Die plan wil ook probleme in die polisie se voorsieningsketting oplos.

“Ek dink iets is fout met die voorsieningsketting by die nasionale hoofkantoor. Die probleem met die beskikbaarheid van bewysstelle vir verkragting het dit onderstreep. Die verskaffer se kontrak het verval, wat dit vir polisiekantore moeilik gemaak het om van die stelle in die hande te kry,” sê hy.

“Ons moes buitengewone stappe doen, insluitende om vergaderings op Sondae te hou en vandag is die bewysstelle in polisiekantore.”

Sam Mashinini (links), Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, Woensdag saam met Cassel Mathale, adjunkminister van polisie, op ’n imbizo in die Grasland-gemeenskapsaal in Bloemspruit. Foto: Mlungisi Louw

Mathale het verlede week voor ’n parlementêre komitee verskyn en is uitgevra oor die stelsel wat vuurwapens met misdade verbind.

“Daardie stelsel is nie in bedryf nie. Die probleem is die voorsieningsketting. Die nuwe plan wil dié probleme oplos, want sonder ’n doeltreffende voorsieningsketting sal die polisie nooit doeltreffend wees nie.”

Lt.genl. Moeketsi Sempe, provinsiale polisiehoof in die Vrystaat, spreek die teenwoordiges toe. Foto: Mlungisi Louw

Mathale sê gemeenskappe moet saam met die polisie werk in die stryd teen misdaad.

“Misdadigers word deur gemeenskappe geskep, misdadigers bly in gemeenskappe, hulle is lid van ’n familie. Misdadigers word in families en gemeenskappe groot. Gemeenskappe weet wie die misdadigers is, wie dwelms en gesteelde goedere verkoop. En dit is gemeenskappe wat die kliënte word van die misdadigers in hul midde.”

Van die inwoners wat die imbizo bygewoon het, het gekla dat Mathale reeds die derde minister is wat hulle besoek en steeds worstel hulle met dieselfde probleem, naamlik dat daar nie vir hul gemeenskap ’n polisiekantoor is nie.

Fakile Mbalula, die vorige minister van polisie, het ’n polisiekantoor aan inwoners belowe.

Die Bloemspruit-polisiekantoor, die enigste volwaardige polisiekantoor in omgewing, is sowat 5 km weg van die meeste inwoners, het Mzwandile Phupha, ’n wyksraadslid, gekla.

Tshepo Ramohauoa (47), ’n inwoner, praat oor sy probleme met die Bloemspruit-polisiekantoor op Woensdagmiddag se imbizo in Bloemspruit. Foto: Mlungisi Louw
Mzwandile Phupha (54), wyksraadslid, sê die Bloemspruit-polisiekantoor het nie genoeg hulpbronne of personeel nie. Foto: Mlungisi Louw
Meer oor:  Cassel Mathale  |  Bloemfontein  |  Bloemspruit  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.