Die polisie het foto’s uitgereik van die vermeende aanvaller wat die Kaapstadse prokureur Jakes van der Merwe (53) vroeër vandeesmaand in Kaapstad geskiet het in die hoop dat iemand die man sal herken.
Die beeldmateriaal is op 12 Februarie geneem naby waar Van der Merwe in Constantiaweg, Higgovale, geskiet is en wys ’n man met ’n Springbok-pet op sy kop en ’n serp oor die onderkant van sy gesig. Die man ry in ’n Hyundai H1-minibus.
Die polisie vermoed dat hy alleen die aanval uitgevoer het.
'n Aanvaller het twee skote op Van der Merwe geskiet, waarvan een hom in die nek getref het.
Dit lyk asof die man Van der Merwe se roetine geken het en hom vroeër die oggend, voordat hy hom geskiet het, agtervolg het.
Lees ook: Geheimsinnigheid omhul skote op regsman
Op kringtelevisiebeeldmateriaal kan gesien word hoe die man ’n uur of wat voordat Van der Merwe geskiet is, tot by Van der Merwe se huis loop, omdraai en terugstap na waar hy die minibus geparkeer het.
Van der Merwe het kort daarna eers sy dogter by haar skool in die stad gaan aflaai en die minibus word gesien waar dit Van der Merwe se voertuig agtervolg.

Die verdagte het ’n Springbok-pet op sy kop gehad en ’n serp om sy gesig.Foto: SAPD
Volgens ’n bron het Van der Merwe daarna na sy kantoor in die stad gery met die minibus kort op sy hakke. In die parkeerarea hou die minibus vir ’n kort rukkie stil, die bestuurder sit sy vermomming op en ry dan verder.
Toe Van der Merwe in die straat oorkant sy huis stilhou, het die minibus langs sy voertuig stilgehou. Die beeldmateriaal wys hoe Van der Merwe sekondes daarna uit sy voertuig klim, sy nek vashou en oor die pad na sy huis hardloop.
Van der Merwe, ’n siviele prokureur, is in die Christiaan Barnard Memorial-hospitaal opgeneem en later die oggend ontslaan.
Die nommerplaat van die silwer Hyunda H1 waarin die aanvaller weggery het, is glo gekloon.
Enigiemand wat die gemaskerde man of sy voertuig herken, kan ao. Shaun Bardien of die Kaapstad Sentraal-polisiekantoor by 082 469 3176 of 073 220 0653 kontak. Die man word in verband met ’n saak van poging tot moord gesoek. Mense kan ook die polisie se Stop Misdaadnommer, 08600 10111, skakel.

Die polisie vermoed dat die verdagte se snor en baard ook vals is.Foto: SAPD

Die verdagte in ’n Hyundai H1-minibus.Foto: SAPD