Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie hoor: ‘Sit stelsels weer aan!’

Die minister en kommissaris van polisie is Woensdag in die parlement beveel om te sorg dat twee noodsaaklike rekenaarstelsels weer aangeskakel word, maar teen Saterdag het niemand die verskaffer van die stelsels nog daaroor genader nie.

Keith Keating, uitvoerende hoof van Forensic Data Analysts. Foto: Deon Raath

Rapport het verlede Sondag berig die stelsels wat monitor waar forensiese bewysstukke in die polisie se stelsel en polisievuurwapens is, is al in Junie verlede jaar afgeskakel weens ’n dispuut oor wanbetaling met Forensic Data Analysts (FDA).

Woensdag het Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, aan Bheki Cele, die minister, genl. Khehla Sitole, kommissaris, en ander hooggeplaastes gesê: “Voordat julle (die komende Woensdag) voor hierdie komitee verskyn, moet die stelsels aangeskakel wees en julle sal ’n plan van aksie aan my moet verskaf wat julle saam met FDA ontwikkel het oor hoe die (DNS-)agterstand hanteer sal word.”

Die polisie en die staat se inligtingstegnologieagentskap, Sita, het nege uit nege hofsake in drie en ’n half jaar teen FDA verloor.

Steeds het hulle FDA nie vir die stelsels betaal nie en in Junie is dit afgeskakel.

Die een stelsel, Property Control and Exhibit Management (PCEM), word gebruik om miljoene forensiese bewysstukke in polisielaboratoriums, store en -kluise te bestuur. Die polisie gebruik die ander een, Firearm Permit System (FPS), om byna ’n halfmiljoen polisievuurwapens, asook die ammunisie daarvoor, te bestuur en om polisielede aan diens in en uit te teken. PCEM en FPS is met die bestaande polisiestelsels geïntegreer.

' Dit beteken tog daar is ’n ooreenkoms.’

Joemat-Pettersson het voorts Woensdag gesê sy sal die speaker vra vir ’n onafhanklike ondersoek na hoekom dit so lank geneem het om die kwessie op te los. Oor die hofsake het sy gesê: “Dit het julle maande en maande geneem. Ek het nege verskillende hofbevele teen julle gesien. Al jul hofgevegte sal vandag ophou.”

Keith Keating, uitvoerende hoof van FDA, het Saterdag vir Rapport gesê niemand het nog met sy maatskappy in aanraking gekom nie. “Hoe is dit moontlik dat die polisie dink hulle gaan die geskil oplos sonder om met ons in verbinding te tree?”

’n Groter probleem is volgens Keating “die leemte in die regstelsel wat ons afgeskakelde stelsels laat”.

“Elke sekonde wat verby tik, is ’n sekonde waar ’n misdaadslagoffer nie geregtigheid kry nie,” sê hy.

“Die afgelope 18 maande skryf die polisie se regspan gereeld vir ons en sê daar is nie ’n ooreenkoms nie, maar die direkteur-generaal van die tesourie én kommissaris Sitole het op die komiteevergadering gesê daar is ’n ooreenkoms bereik waarop ons hand geskud het.”

Veral Sitole se verskyning voor die komitee laat hom sy hande in die lug gooi. “Hy het vir die komitee gesê hy het ‘hom daarin verdiep’, maar die minister het hom verhoed om te teken en te betaal. Dit beteken tog daar is ’n ooreenkoms.”

Cele se woordvoerder, Lirandzu Themba, het Saterdagoggend gesê FDA is oorhaastig. “Dit is net regverdig om die SAPD en die ministerie geleentheid te gee om hieraan te werk. Ons het sedert die komiteevergadering vergaderings oor hierdie kwessie gehou, met nog wat volg.”

Volgens ’n groep van die Wes-Kaapse regering wat ondoeltreffendheid in hofsake ondersoek, is 50 geslagsgeweldsake van 1 Oktober tot 31 Desember verlede jaar teruggetrek of van die hofrol verwyder weens polisie-ondoeltreffendheid, in verskeie gevalle weens die afgeskakelde stelsels.

Die groep doen verslag aan die wetgewer se staande komitee oor gemeenskapsveiligheid. Reagen Allen, die komiteevoorsitter, sê dié situasie is onaanvaarbaar.

“Ons praat van sake soos ’n driejarige verkragtingslagoffer van Delft wie se saak tien keer uitgestel is vir ’n verskeidenheid van redes. Dit wissel van verdere ondersoek wat benodig was en borgtogondersoeke tot dossiere wat nie by die hof opgedaag het nie.”

Dié saak is met die beskuldigde se tiende hofverskyning teruggetrek omdat die ondersoek nog nie afgehandel was nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.