Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Onluste: Polisie in Gauteng ‘ís gewaarsku’

Die polisie in Gauteng ís tydens die onluste in KwaZulu-Natal gewaarsku dat dit na dié provinsie kan oorspoel.

So het Faith Mazibuko, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Gauteng, Donderdag aan ’n komitee in die provinsiale wetgewer gesê nadat sy gevra is om die polisie se optrede in die onlangse onluste te verduidelik.

Faith Mazibuko Foto: Daily Sun

Miljarde rande se skade is vroeër vandeesmaand in die twee provinsies aangerig toe plunderaars winkels leeggesteel, paaie versper en geboue aan die brand gesteek het. Die onluste het begin kort nadat oudpres. Jacob Zuma op 7 Julie in sy Nkandla-woning in hegtenis geneem is.

“Die polisie het video’s en stemopnames ontvang dat die geweld en onluste na Gauteng sou oorspoel. Dit is die Vrydagaand (9 Julie) ontvang en die intelligensiedienste het hard gewerk om dit op te volg.

“Vosloorus is toe nog as ’n moontlike brandpunt geïdentifiseer,” het sy gesê.

Volgens Mazibuko was die beskikbare polisielede in Gauteng tydens die onluste egter min omdat 300 reeds in KwaZulu-Natal ontplooi was.

Sy het gesê dit beteken egter nie dat die polisie teruggestaan en niks tydens die plundertogte gedoen het nie. “Die beamptes het rondgehardloop en die orde probeer herstel waar hulle kon.”

Sy het gesê die polisie kon egter nie net op die plunderaars skiet nie.

“Beamptes van plaaslike polisiekantore is ook ontplooi. Hulle is egter nie in skarebeheer opgelei nie en kan nie net begin skiet nie. Hulle het skerppunt-ammunisie, terwyl die polisie se eenheid vir openbare orde, wat in skarebeheer opgelei is, rubberkoeëls en traanrook gebruik.

“Ons kon nie net ingaan en met skerppunt-ammunisie begin skiet nie.”

Die beamptes het rondgehardloop en die orde probeer herstel waar hulle kon.
LUR Faith Mazibuko

Mazibuko het gesê Johannesburg se metropolisie het ook die polisie bygestaan.

Genl.maj. Tommy Mthombeni, waarnemende polisiekommissaris van Gauteng, het Donderdag aan die TV-nuuskanaal eNCA gesê die polisie het in die onluste 1 693 mense in hegtenis geneem. Agt mense wat ander na bewering aangehits het om te plunder en paaie te versper, is ook in die provinsie in hegtenis geneem.

Hy het gesê die polisie sal in die toekoms gereed wees om soortgelyke situasies te voorkom.

“Ons werk saam met die veiligheidsagentskappe in Gauteng, en ’n reaksieplan is opgestel.”

Meer oor:  Faith Mazibuko  |  Gauteng  |  Geweld En Plundery  |  Polisie  |  Onluste  |  Waarsku
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.