Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie in N-Kaap vat geweld teen kinders vas
Die Noord-Kaapse ondersoekbeamptes in verskeie sake van gesinsgeweld en verkragting wat vir hul toegewydheid geloof is. Van links is sers. Ilse Fan, konst. Nelson Williams, sers. Lebogang Serati en sers. Edwin Mokgalagadi. Foto: Verskaf

Die Noord-Kaapse polisie in die Pixley Ka Seme-distrik rondom De Aar is ingenome nadat verskeie beskuldigdes die afgelope twee maande in afsonderlike sake van verkragting en aanranding van kinders swaar vonnisse opgelê is.

Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die polisie se bestuur is hoogs tevrede met die deeglike ondersoeke onder leiding van die bevelvoerder, kapt. Witz Coetzee, wat tot die skuldigbevindings en vonnisopleggings gelei het.

“Sers. Lebogang Serati was die ondersoekbeampte in ’n voorval waarin die ouers van ’n seuntjie (5) van Noupoort weens onder meer aanranding aangekla is. Die seuntjie is in Julie 2018 met ernstige kopbeserings in die hospitaal opgeneem.

“Sy ouers is op 6 Maart vanjaar elk ses jaar gevangenisstraf opgelê omdat hulle ná die voorval nie mediese hulp vir die seuntjie verkry het nie.

“Die man is boonop ’n bykomende agt jaar gevangenisstraf opgelê vir aanranding met die doel om ernstig te beseer. Sy vonnisse moet opeenvolgend uitgedien word.”

In nog ’n saak is ’n man (49) op 25 Februarie skuldig bevind en tot 25 jaar gevangenisstraf gevonnis omdat hy sy stiefdogter (14) in 2015 en 2016 in Noupoort verkrag het.

In ’n ander saak is ’n man (50) ook op 6 Maart vanjaar ’n vonnis van 15 jaar gevangenisstraf in die hof in Richmond opgelê omdat hy sy stiefdogter (14) probeer verkrag het.

Die man was die meisie se wettige voog. Die voorval het in Julie 2018 in hul huis in Richmond gebeur, waarna hy dadelik deur die ondersoekbeampte, konst. Nelson Williams, en sy span in hegtenis geneem is.

In nog ’n saak is ’n man (49) op 25 Februarie skuldig bevind en tot 25 jaar gevangenisstraf gevonnis omdat hy sy stiefdogter (14) in 2015 en 2016 in Noupoort verkrag het, sê Kock.

“Die man se dade het aan die lig gekom nadat sy slagoffer swanger geraak het. Hy is deur die ondersoekwerk van sers. Ilse Fan met DNS aan die verkragting verbind.”

Ook op 25 Februarie is Ryan Bostander in die rondgaande hof in De Aar weens statutêre verkragting skuldig bevind nadat hy seksuele omgang met ’n minderjarige meisie (14) gehad het. Hy is ses jaar gevangenisstraf opgelê weens die voorval in Junie 2018.

Die saak is deur sers. Edwin Mokgalagadi ondersoek.

Brig. Nicky Mills, Noord-Kaapse hoof van die gesinsgeweld-eenheid, het die onderskeie ondersoekbeamptes en lede gelukgewens.

“Ons lede is toegewyd. Die vonnisopleggings is tekenend daarvan dat geregtigheid vir die slagoffers geskied. Die gemeenskap kan veiliger voel omdat die misdadigers uit die samelewing verwyder is. Die polisie se prioriteit is om vroue en kinders te beskerm,” sê Mills.

Meer oor:  De Aar  |  Polisie  |  Geweld Teen Kinders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.