Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie in Overberg ‘onbevoeg teen stropery’

Die Wes-Kaapse polisieombudsman het bevind die polisiekantore langs die Overbergse kus is totaal onbevoeg om perlemoenstropery te takel.

Die polisieombudsman het bevind dat polisiekantore in die Overberg-streek onbevoeg is om perlemoenstropery te takel. Foto: Verskaf

Johan Brand, polisieombudsman in die Wes-Kaap, het ’n verslag saamgestel wat die ondoeltreffendheid van polisie in Hermanus, Kleinmond en Stanford bekragtig.

Albert Fritz, die LUR van gemeenskapsveiligheid, het Dinsdag Brand se verslag oor swak polisiedienste in die streek ontvang en gesê dat die klagte oor polisie-ondoeltreffendheid daarin gestaaf word.

  • Fritz sê die verslag beveel onder meer aan dat: Die bevindings dringend onder die aandag van die nasionale minister van polisie, Bheki Cele, gebring moet word sodat die swak verhouding tussen polisie en inwoners en die toekenning van hulpbronne en voertuie vir speurders in die Overberg-distrik bespreek kan word;
  • Die SAPD se eenheid teen georganiseerde misdaad alle georganiseerde projekte rakende perlemoen stropery moet inisieer en ondersoek;
  • Stropery moet geklassifiseer word as ’n georganiseerde misdaad ingevolge artikel 16 van die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens;
  • ’n Omgewingshof in oorleg met die nasionale minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling weer op die been gebring moet word; en
  • Perlemoenstropery moet gekategoriseer word as ’n ernstige misdaad, in ooreenstemming met renosterstropery.

Die verslag stel ook voor dat die bevindings verwys word na die staande komitee vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer sodat die huidige polisiëringsmodel na die betrokke staande komitee verwys word.

“Die verslag sal voorgelê word aan die provinsiale staande komitee vir gemeenskapsveiligheid, wat dit verder sal bestudeer volgens die grondwetlike bevoegdhede van so ’n veelpartykomitee,” het Fritz gesê.

“Ek wil die ombudsman bedank vir hierdie insiggewende aanbevelings wat gebaseer is op empiriese bewyse. Ek sal nou saamwerk met die nodige rolspelers om te verseker dat hierdie aanbevelings hersien en geïmplementeer word,” het Fritz gesê.

Onder sy leiding, het Fritz gesê, sal die departement van gemeenskapsveiligheid voortgaan om elke instrument tot sy beskikking te gebruik om landelike en stedelike gemeenskappe in die Wes-Kaap te beskerm teen stropery van enige aard.

Ek wil die ombudsman bedank vir hierdie insiggewende aanbevelings wat gebaseer is op empiriese bewyse.

Die omgewingsdrukgroep Community Against Abalone Poach­ing (CAAP) sê: “Die verslag van die ombudsman is min of meer wat ons verwag het. Die polisie in die Overberg, en veral dié wat op die perlemoenstropery moet fokus, is nie meer in beheer van die situasie nie.”

Leo van Dyk, sekretaris van CAAP, sê die ombudsman se verslag is in ooreenstemming met die pleidooie wat hulle al die afgelope drie jaar rig vir die owerhede om daadwerklik teen perlemoenstropers op te tree. “Ons verwelkom dus die feit dat die probleem nou amptelik onder die aandag van die nasionale minister van polisie, Bheki Cele, gebring word om die probleem van onvoldoende infrastruktuur en personeel aan te pak.”

Van Dyk sê die aanbeveling dat die eenheid teen georganiseerde misdaad na perlemoenstropery moet kyk, sal hopelik help dat daar meer op grondvlak gedoen word. “Om perlemoenstropery as ’n georganiseerde misdaad te klassifiseer, is ook ’n groot deurbraak, aangesien dit tans glad nie as ernstige misdaad in die Overberg beskou word nie. Die aanbeveling dat ’n omgewingshof weer ingestel word, sal ook as groot afskrikmiddel dien,” het hy bygevoeg.

“Ons is dus versigtig optimisties dat daar nou ’n groter fokus op die perlemoenstropery sal val,” het Van Dyk gesê.

Meer oor:  Polisie  |  Albert Fritz  |  Overberg  |  Wes-Kaap  |  Stropery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.