Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie ‘kan nie regulasies oral ewe goed toepas’

Die polisie beskik nie oor die vermoë om die vlak 1-regulasies van die staat van inperking oral in die land ewe streng toe te pas nie.

So sê dr. Guy Lamb, ’n polisiekenner aan die Universiteit Stellenbosch, nadat Bheki Cele, minister van polisie, Dinsdag op ’n mediakonferensie gesê het die polisie bly paraat om die regulasies, soos die aandklokreël en beperkings op die verkoop van alkohol, af te dwing.

Dr. Guy Lamb, ’n polisiekenner aan die Universiteit Stellenbosch.

Ingevolge vlak 1 van die inperking mag Suid-Afrikaners nie tussen middernag en 04:00 buite hul woning wees nie en drankwinkels mag slegs op weeksdae tussen 09:00 en 17:00 oop wees.

By drink- en eetplekke mag drank slegs tussen 09:00 en middernag bedien word.

Nagklubs mag nog glad nie oop wees nie.

Cele het gewaarsku dat die eienaars en bestuurders van drink- en eetplekke in hegtenis geneem sal word indien die regulasies oortree word. Die betrokke persele kan ook hul dranklisensies kwyt wees.

Volgens Lamb sal die polisie wel in meer formele gebiede die regulasies suksesvol kan toepas, maar hy meen die polisie gaan sukkel om dieselfde in talle townships te doen.

“Sekere plekke in townships is ontoeganklik vir die polisie, dit is gevaarliker daar en die verhouding met die polisie is nie altyd so goed nie,” sê Lamb.

Bheki Cele Foto: Argief

Cele het ook aangekondig dat die regering 30 brandpunte van geslagsgeweld in Suid-Afrika op grond van onder meer die misdaadstatistieke geïdentifiseer het. Volgens hom sal die interministeriële komitee oor geslagsgeweld verder daaroor uitbrei.

Volgens die minister bly dit egter ’n prioriteitsmisdaad vir die polisie. Polisiekantore sal glo ’n permanente “lessenaar” vir geslagsgeweld hê, en polisiebeamptes wat agter dié lessenaar werk, sal opgelei word oor hoe om slagoffers van geslagsgeweld te hanteer.

Lamb is skepties oor die polisie se brandpuntplan. Hoewel dit tot voordeel sal wees vir die brandpuntgebiede dat die polisie daarop fokus, kan dit veroorsaak dat ander gebiede afgeskeep word.

“Die idee van ’n toegewysde beampte in elke polisiekantoor oor geslagsgeweld sal help. Maar geslagsgeweld het baie ander faktore waarop daar ag geslaan moet word.

“Een van die grootste probleme is dat die polisie nie tans genoeg doen om beskermingsbevele wat deur howe aan die slagoffers toegestaan is, af te dwing nie.”

Meer oor:  Bheki Cele  |  Regulasies  |  Aandklokreël
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.