Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie kan nie sê hoekom Kinnear-gesin nie beskerm is nie

Donderdag 19 Desember 2019 was die laaste dag wat polisielede beskerming aan die vermoorde lt.kol. Charl Kinnear en sy gesin gebied het.

Kinnear se vrou, Nicolette Kinnear, het Saterdag gesê die polisielede wat aan hulle toegewys is, het nog die aandskof gedoen. Die Vrydagoggend, 20 Desember 2019, het niemand opgedaag nie. Sy het nog gedink dit is seker omdat die polisielede almal ontplooi is om ’n wakende oog by die begrafnis van Rashied Staggie, voormalige Hard Living-bendebaas, moes hou.

Staggie is op Saterdag 21 Desember vanuit sy huis in Londonstraat, Woodstock, begrawe.

In die dae daarna het die beskermingsdienste wat aan hulle toegewys is ná ’n aanslag op Kinnear se lewe ook nie weer opgedaag nie.

Nicolette sê geen rede is vir hulle gegee oor hoekom die beskermingsdienste onttrek is nie. “Ek weet Charl het gevra, maar tot vandag toe weet ek nie wie die opdrag gegee het of hoekom nie.”

Beskermingsdienste is aan Kinnear en sy gesin in November 2019 toegewys kort nadat ’n man met handgranate in sy besit voor Kinnear se huis in hegtenis geneem is.

Kinnear, ’n bevelvoerder by die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, is Vrydag voor sy huis in Gearingweg, Sidneyvale, Bishop Lavis, vermoor.

Hy is meer as vyf keer raakgeskiet. Die meeste van die skote was in sy bolyf. Hy het op die toneel in sy voertuig aan sy wonde beswyk.

Lt.kol. Charl Kinnear is Vrydag voor sy huis in Sidneyvale, Bishop Lavis, vermoor.

Sy moordenaar was in ’n rooi kaptop geklee. Hy het ’n masker opgehad en het daarna in die rigting van die Malawi- informele nedersetting wat langs Bishop Lavis geleë is, gevlug.

Vrydag het lt.genl. Sindile Mfazi, wat volgens betroubare bronne die besluit geneem het dat beskerming vir Kinnear en sy gesin onttrek moet word, ontken dat hy enigsins iets met dié besluit te doen gehad het.

Mfazi, tans nasionale adjunkkommissaris belas met bestuursdienste in die polisie, het Vrydag gesê: “Wie is die man van wie jy praat? Waarvan praat jy? Ek werk by nasionaal, ek weet nie wat in die Wes-Kaap aangaan nie.”

Hy het ook ontken dat hy in die tydperk wat die beskermingsdienste vir Kinnear onttrek is, waarnemende Wes-Kaapse polisiehoof was.

Mfazi is in Julie 2019 as waarnemende Wes-Kaapse polisiehoof aangestel nadat die vorige Wes-Kaapse polisiehoof, lt.genl. Khombinkosi Jula, terug KwaZulu-Natal toe verplaas is.

Hy het eers in Januarie 2020 die leisels aan Jula se opvolger, lt.genl. Yolisa Matakata, oorgegee.

Lt.genl. Sindile Mfazi is volgens betroubare bronne die persoon wat die besluit geneem het dat beskermingsdienste vir lt.kol. Charl Kinnear en sy gesin onttrek moet word. Foto: SAPD/Twitter

Brig. Novela Potelwa, Wes-Kaapse woordvoerder, het Vrydag op die toneel van die moord gesê sy gaan nie bespiegel oor vorige aanvalle op Kinnear se lewe nie.

Sy het gesê sy laat toe dat ’n ondersoek vasstel wat die motiewe is.

Ook die nasionale polisiehoof, genl. Khehla Sitole, wou nie Vrydagaand vrae beantwoord oor wie die opdrag gegee het dat beskerming vir Kinnear onttrek moet word nie. Hy het gesê dat protokol gevolg moet word en dat sy woordvoerder, brig. Vish Naidoo, eers toestemming moet gee dat hy (Sitole) met die media mag praat. Naidoo het versoek dat die vrae na hom gestuur word.

Hy het kort nadat hy die vrae ontvang het, gesê daar is heelwat vrae rondom die moord van Kinnear wat beantwoord moet word.

“Jou vrae word in ’n ernstige lig beskou en sal na gekyk word,” het Naidoo gesê.

Kinnear het vir sy lewe gevrees kort nadat ’n ander polisielid, kol. André Kay, by sy huis in Bishop Lavis in November 2019 deur onbekende aanvallers doodgeskiet is.

’n Week ná die aanval op Kay is ’n man met handgranate in sy besit voor Kinnear se huis betrap. Die man is in hegtenis geneem en sy verhoor begin in Oktober vanjaar.

kinnear
Die misdaadtoneel in Sidneyvale, Bishop Lavis, waar lt.kol Charl Kinnear, Vrydag doodgeskiet is. Foto: Jaco Marais

Ná Kay se moord is bespiegel dat die verkeerde mens doodgeskiet is. Vrydagaand het een van die mense wat nou by Kay se moordondersoek betrokke is, gesê dat Kay se aanvallers eintlik vir Kinnear gesoek het.

“Ons het ’n verklaring van iemand wat gesê het dat die mans daar rondgery het en gevra het waar woon ‘Colonel K’. Die persoon het gedink hulle vra na Kay en het vir hulle gewys waar Kay woon.”

Die bron het gesê hulle weet wie agter die aanval waarin Kay vermoor is, sit. “Die legkaart is besig om stuk-vir-stuk inmekaar te pas. Daar is net een mens wat na Kinnear na ‘Colonel K’ verwys. In sy WhatsApp-boodskappe, in sy stem-opnames, alles. Hy noem hom nooit op sy naam nie. Hy noem hom altyd net ‘Colonel K’.”

Kinnear het in Januarie 2019 in ’n beëdigde verklaring gesê dat hy vir sy lewe en dié van sy gesin vrees en het gevra dat van sy kollegas verbonde aan die Wes-Kaapse misdaadintelligensie-afdeling ondersoek moet word. Hy het toe aangevoer dat lede van misdaadintelligensie in private voertuie voor sy huis geparkeer staan en sy huis monitor. Die voertuie, het Kinnear glo uitgevind, behoort almal aan die misdaadintelligensie-afdeling.

Kinnear laat sy vrou, Nicolette, en twee seuns agter.

Meer oor:  Bishop Lavis  |  Kaapstad  |  Kinnear-Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.