Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie keer moordverdagte aan
verdagte
Die polisie het ’n 25-jarige verdagte aangekeer in verband met die skietdood van Lorenzo Nicholas. Foto ter illustrasie

Ná ’n soektog van drie maande het die polisie ’n vermeende moordenaar in ’n onverwante skietvoorval vasgetrek.

Die 25-jarige verdagte word verbind met die skietdood van Lorenzo Nicholas (27) en poging tot moord op Areté Prins (6).

Albei is op 14 November 2019 in Kobusweg, in die hartjie van Port Elizabeth se bendegeteisterde gebied, geskiet.

Nicholas het omstreeks 19:15 in dié straat in Helenvale gestap toe ’n man op hom losbrand. Hy is verskeie kere raakgeskiet en in die straat dood.

Areté, wat enkele meters verder in ’n systraat gestap het nadat sy lekkers by ’n hoekhuiswinkel gekoop het, is deur ’n dwaalkoeël getref.

Haar ouers het die aand die wond aan hul dogter se maag gesien, maar het gedink sy het dit opgedoen toe omstanders haar omgestamp en op haar getrap het toe hulle vir die koeëls probeer vlug het.

Die wond het egter aanhou bloei, waarna hulle haar hospitaal toe geneem het. Hier het ’n X-straal bevestig sy is raakgeskiet en dat die koeël in haar maag sit.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê die polisie het deur hul ondersoek vasgestel wie die verdagte is en ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik.

Polisiebeamptes wat Maandagaand op ’n skietery in Kamesh gereageer het, het die man herken. Daar was ’n Mazda Rustler-bakkie sonder nommerplate op die toneel.

“Toe die voertuig voorgekeer is, het die bestuurder uitgespring en weggehardloop, maar hy is vasgetrek.”

Die man is vir die moord op Nicholas, asook poging tot moord op Areté, en die besit van ’n vermoedelik gesteelde motor in hegtenis geneem.

Die man se passasier is ook vir die besit van ’n vermoedelik gesteelde motor in hegtenis geneem.

Volgens Naidu is die Mazda vroeër in Maart in Bethelsdorp as gesteel aangemeld. Verdere ondersoek sal bepaal of die verdagtes moontlik by die diefstal betrokke was.

Die twee mans sal Woensdag in die landdroshof verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.