Die polisie in die Oos-Kaap het 25 gesteelde skape gered wat in ’n gat in die grond weggesteek is.
Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, sê polisie het op ’n wenk gereageer en die skape Saterdag op ’n plaas by Mt. Fletcher in die Avondale-gebied gekry.
“Die polisie het inderdaad 25 skape versteek in ’n donker gat gekry,” sê Kinana.
“Die skape is later geïdentifiseer as die skape wat behoort aan ’n boer wat hulle vroeër die dag as gesteel aangemeld het.”
Die boer het gesien sy skape is weg toe hy wakker word. Kinana sê die skape is dieselfde dag nog aan die boer terugbesorg, maar die veediewe is nog nie aangekeer nie.
Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, het op 8 Julie met boere in King William’s Town vergader om ’n oplossing te probeer vind vir die groot probleem van veediefstal in die gebiede wat aan Lesotho grens.
Die polisie het toe gesê boere in Mt. Fletcher, Ugie en Elliot word rot en kaal gesteel.