Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie kry hul gesteelde wapens terug, verdagte vas

’n Man is in aangekeer vir die rooftog waarin wapens in die Tsineng-polisiekantoor naby Hotazel in die Kalahari gebuit is. Die wapens is ook teruggevind.

Die verdagte wat Dinsdagmiddag deur die Valke in die Noord-Kaap by Promise Land in Mothibistad in hegtenis geneem is. Foto: Verskaf

Die Valke in die Noord-Kaap het Dinsdag omstreeks 17:00 een verdagte in Promise Land in Mothibistad in hegtenis geneem nadat ’n wenk uit die gemeenskap ontvang is, het Nomthandazo Mnisi, ’n woordvoerder, gesê.

Daar word nog na twee verdagtes gesoek.

Mnisi het gesê al die wapens wat in die rooftog gebuit is, is in die verdagte se besit gevind.

’n Beloning van R50 000 is ook Dinsdag deur die Valke uitgeloof vir enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming en vervolging kan lei van die mans wat die Tsineng-polisiekantoor van ’n groot getal wapens beroof het. Die beloning geld steeds.

Dit is uitgeloof nadat Bheki Cele, minister van polisie, op ’n mediakonferensie oor die slagting in Phoenix, KwaZulu-Natal, gesê het die voorval in dié Noord-Kaapse polisiekantoor word nie met die onluste en plundering in KwaZulu-Natal verbind nie.

Die Tsineng-polisiekantoor, wat in ’n verafgeleë deel van die Kalahari is, is Saterdag deur drie mans beroof terwyl slegs ’n polisievrou aan diens was. Die beampte se kollega was op patrollie in die woonbuurt toe die drie mans die polisiekantoor ingekom en haar met vuurwapens gedreig het om die kluis se sleutels aan hulle te oorhandig.

Die DA het Dinsdag ’n toesigbesoek aan die polisiekantoor gebring.

Al die wapens wat in die rooftog in die Tsineng-polisiekantoor gebuit is, is in die verdagte se besit gevind. Foto: Verskaf

Ofentse Mokae, Noord-Kaapse DA-wetgewerlid, sê dit is kommerwekkend dat die polisiekantoor, wat reeds te min hulpbronne het en die inwoners in 43 omliggende dorpe moet beskerm, van so baie wapens beroof is.

“Ek is ingelig dat die polisie se waarnemende provinsiale kommissaris, genl.maj. Joey Kers, die polisiekantoor Sondag besoek het.”

Stellings deur Cele op televisie bekommer Mokae ook. “Dit lyk asof hy die erns van die rooftog probeer wegpraat. Terwyl hy genoem het dat berigte oor dreigende aanvalle op polisiekantore en ammunisiedepots vals nuus is, maak dit nie die voorval minder ernstig nie.

“Daar is immers heelparty klein, onderbemande polisiekantore in die provinsie en in die land. ’n Aanval op ’n polisiekantoor is ’n aanval op die staat, en dit sal ’n fout wees as Cele, die polisie en die veiligheids- en justisie-groep die rooftog as minder ernstig beskou.”

Vroeër is berig dat die mans drie R5- semi-outomatiese wapens met twee magasyne en 37 patrone, twee haelgewere met 103 patrone en agt 9 mm-pistole met vyf magasyne en 98 patrone gebuit het.

Die polisielid is daarna vasgebind en die mans het met haar selfoon gevlug.

Mnisi sê geen skote is afgevuur nie en die beampte is nie beseer nie.

Die Valke versoek enigiemand met inligting om kol. Mgcineni Christopher Sityodana by 071 481 2802, of ao. Michael Modise Bogacwi by 082 495 0819 te bel.

Meer oor:  Kalahari  |  Valke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.