Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie kyk glo bebloede mes mis

’n Oënskynlik bebloede Okapimes is in die bakkie gekry waarmee Brendin Horner die aand van sy moord gery het – dít nadat die voertuig twee en ’n half weke by die polisie was.

Dié Okapi-mes is die afgelope week in die bakkie gekry waarmee Brendin Horner die aand van sy moord gery het, sê Gilly Scheepers, sy werkgewer. Die polisie ontken hulle het dit misgekyk.

“Daar is definitief bloed op die mes,” sê Gilly Scheepers, eienaar van die Bloukruin-boerdery by Paul Roux in die Vrystaat en Horner se werkgewer.

Die polisie sê hulle het die mes intussen by Scheepers gaan haal, maar ontken hulle het dit in die bakkie misgekyk.

Die 22-jarige Horner is die aand van 1 Oktober laas lewend gesien. Sy lyk is die volgende dag gekry waar dit aan ’n heiningpaal vasgemaak is.

Bloukruin se wit Toyota Hilux-bakkie waarmee Horner die aand by sy pa gaan kuier het, is verlate langs die pad Bethlehem toe gekry.

Een van die mans wat van sy moord aangekla word, Sekola Matlaletsa (44), is die afgelope week op borgtog van R5 000 vrygelaat. Die Senekal-landdroshof het bevind die staat het nie ’n sterk saak teen hom nie.

Landdros Deon van Rooyen het bevind daar is wel ’n prima facie-saak teen sy medebeskuldigde, Sekwetje Mahlamba (32), en sy borgtogaansoek geweier.

Volgens Scheepers het die moord sy werknemers baie ontstel. “Ek wou nie gehad het my mense moet die bakkie skoonmaak nie.” Daarom het hy die Toyota-handelaar in Bethlehem gevra om die bakkie te gaan haal en dit eers te laat was voordat dit terugkom plaas toe.

Die vuil mes is toe op die passasiersitplek gekry. Die man wat die mes gevind het, het versoek dat sy naam nie genoem word nie.

Scheepers sê toe hy van die mes hoor, het hy die polisie se speurafdeling dadelik gebel. Die mes is by Scheepers kom haal.

Hy kan nie kleinkry hoe ’n leidraad soos dié misgekyk kon word nie. “Hoe is dit moontlik? Jy ondersoek ’n moord, maar jy kyk soos jou gat?”

Brig. Vishnu Naidoo, ’n polisiewoordvoerder, sê die ondersoekspan en forensiese kenners is “vol vertroue” dat die voertuig deeglik vir leidrade nagegaan en geanaliseer is. “Niks noemenswaardig is agtergelaat nie, veral nie ’n mes soos mnr. Scheepers beweer nie.”

Naidoo sê die brigadier aan die hoof van die ondersoekspan na die moord het die voertuig self finaal geïnspekteer voordat dit aan Scheepers oorhandig is.

“Dieselfde brigadier was egter sedertdien met mnr. Scheepers in verbinding en het die genoemde mes by hom gaan haal om geanaliseer te word.”

* Die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie het die afgelope week gehoor die forensiese afdeling van die polisie is op die rand van ineenstorting, berig Netwerk24. Luidens ’n verslag van die na­sionale forensiese toesighoudende en etiekraad benadeel die besnoeiing van finansiering en ’n gebrek aan toerusting die nasionale forensiese wetenskaplike laboratorium erg.

Die komiteevoorsitter, Tina Joemat-Pettersson, het gesê Bheki Cele, minister van polisie, en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, gaan ontbied word om ’n verduideliking daaroor aan LP’s te gee.

Renate Barnard, die vakbond Solidariteit se sektorkoördineerder vir die openbare sektor, sê daar is baie probleme in die polisie se forensiese afdeling. “Forensiese bewyse is van die beste maniere om strafsake te bou. As jy dit nie het nie, kom geweldsmisdadigers dikwels los,” sê sy.

Meer oor:  Gilly Scheepers  |  Brendin Horner  |  Plaasmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.