Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie kyk na poging tot ontvoering by laerskool

Die polisie ondersoek die omstandighede rondom ’n voorval waar ’n laerskoolleerling byna in Kuilsrivier naby Kaapstad ontvoer is.

Die voorval het verlede Donderdag plaasgevind. Die Laerskool Mikro het ’n brief oor die voorval aan ouers gestuur.

Luidens die brief het die gr. R-leerlinge verlede Donderdag kort ná 12:30 soos gewoonlik op die skoolterrein (in Diedrikkiestraat) vir hulle ouers gewag om hulle te kom haal. Skoolpersoneel aan diens was by die leerlinge (onder ’n afdak en aan die binnekant van ’n draaihek).

Van buite die heining het ’n onbekende, volwasse vrou toe aan een van die onderwysers gesê sy is daar om ’n spesifieke kind te kom haal en die kind se naam genoem. Die onderwyseres het die vrou gevra wie sy is en sy het haarself net as “René” geïdentifiseer. Die onbekende vrou was deurentyd op haar selfoon besig.

Toe die onderwyser die kind vra of sy die vrou ken, het die kind nee geantwoord. Volgens die brief het die onderwyser ook dadelik die kind se ma gebel om te hoor of sy weet dat iemand anders haar kind sou kom haal. Die kind se ma het nie van so ’n reëling geweet nie. Die ma was reeds op pad en naby die skool. Die onderwyser het intussen ook aandag aan ander kinders gegee.

In die paar sekondes te midde van heelwat motors en ander ouers in die gebied het die vrou verdwyn. Sy was reeds weg toe die leerling se ouer daar aankom. Volgens die brief kon die onderwyser enkele kenmerke van die vrou onthou.

Louis Mouton, die skoolhoof, sê by navraag daar was geen soortgelyke voorvalle nie. Die voorval is by die polisie aangemeld. “Ons is trots op ons skool se veiligheidsprotokol.”

Kapt. Frederick van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Volgens hom het ’n laerskoolhoof die poging tot ontvoering van ’n leerling aangemeld wat Donderdag plaasgevind het. Die omstandighede rondom die voorval word tans deur die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe in Kuilsrivier ondersoek.

Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD), sê daar is nog geen voorvalle van ontvoerings by ’n skool aangemeld sedert skole heropen het nie.

“Weens Covid-19 is maatreëls oor toegangsbeheer verskerp, met enigiemand wat die skoolterrein betree wat gesif en hul name aangeteken moet word. Ons het ook versoek dat skole die getal mense moet beperk wat hul terrein betree, soos slegs onderwysers, personeel, WKOD-personeel of diensverskaffers.”

Skole verskerp veiligheid in 2018

Volgens die WKOD moes skole in 2018 hul beleide oor veiligheid bywerk, veral oor toegangsbeheer en om seker te maak dat prosedures toegepas word om aangemelde ontvoeringsake te hanteer.

Leerlinge wat by die skool deur ouers of versorgers opgelaai word, moet binne die skoolperseel wag totdat hulle hul vervoer sien. Leerlinge wat openbare vervoer gebruik en moet loop na plekke waar die voertuig vertrek, moet altyd in groepe loop. Waar moontlik moet ouers reël dat die plek so na as moontlik aan die skool is.

Verder moet skole en ouers seker maak dat leerlinge bedag is op vreemdelinge en moet weghardloop indien vreemdelinge hulle nader. Hulle moet ook nie kos, koeldrank, geld of ander voorwerpe van vreemdelinge aanvaar nie en verdagte mense by ’n opvoeder of administrateur aanmeld.


Meer oor:  Kuilsrivier  |  Ontvoering  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.