Die polisie het die afgelope naweek vier mense in hegtenis geneem in afsonderlike misdaadvoorkomingsoperasies in Uniondale, Sedgefield en George en beslag gelê op meer as 180 liter drank.
Vrydag het die polisie in Uniondale inligting van die publiek opgevolg oor die onwettige verkope van drank.
Beslag is gelê op 185 liter alkohol en ’n 18-jarige en 35-jarige man is in hegtenis geneem. Die twee is van Dysselsdorp naby Oudtshoorn en het na bewering sonder ’n dranklisensie drank in Uniondale verkoop.
In ’n onverwante voorval Vrydag het die polisie op ’n perseel in Sedgefield toegeslaan. Beslag is gelê op ’n klein hoeveelheid Mandraxtablette en geld wat blykbaar afkomstig is uit dwelmhandel. Hier is ’n 25-jarige man in hegtenis geneem.
Saterdag het die polisie in ’n operasie by ’n dwelmbrandpunt in George afgekom op 54 Mandraxtablette, ses sakkies tik en ’n klein hoeveelheid dagga. Die polisie het ’n 35-jarige man in hegtenis geneem op ’n aanklag van dwelmhandel.
Die mense wat in hegtenis geneem is sal binnekort in die hof verskyn, luidens ’n verklaring.
Die polisiebestuur in die Eden-kluster het voornemende misdadigers gewaarsku dat soortgelyke optrede in die toekoms beplan word en gesê dat dwelms uit gemeenskappe verwyder sal word.

Van die 185 liter drank waarop die polisie in Uniondale beslag gelê het. Foto: Verskaf