Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie lê beslag op perlemoen, duiktoerusting

Die perlemoensmokkelbedryf is Donderdag ’n slag toegedien toe gestroopte perlemoen en duiktoerusting van sowat R100 000 gekonfiskeer is.

Die polisie in Gqeberha (Port Elizabeth) het in samewerking met die veiligheidsmaatskappy Dark Water Ops omstreeks 01:00 twee mans op heterdaad betrap terwyl hulle sakke met perlemoen op ’n bakkie in die Sardiniabaai-omgewing gelaai het.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê die mans is met 151 perlemoene betrap. Duiktoerusting is ook in die nabygeleë bosse gevind.

Van die perlemoen wat gekonfiskeer is nadat twee mans op heterdaad betrap is terwyl hulle dit op ’n bakkie in die Sardiniabaai-gebied gelaai het.

Volgens Nicky Erasmus, bedryfsdirekteur van Dark Water Ops, word die mans vermoedelik net gebruik om die perlemoen te vervoer nadat dit uitgeduik is.

“Tog maak hierdie arrestasies ’n verskil, want elke keer word die smokkelaars se hulpmiddels afgevat. Ons vat al hul duiktoerusting en hul voertuie word gekonfiskeer. Dit maak dit net soveel moeiliker vir hulle om die volgende dag weer te stroop.

“Dit gaan uiteindelik nie meer die moeite werd wees vir hulle om te duik nie, want dit gaan hulle meer geld kos om hul toerusting te vervang.”

Ondanks twee plaaslike sleutelfigure in perlemoensindikate wat etlike jare terug in die stad gevonnis is, het die stropery onlangs toegeneem.

Erasmus skryf dit toe aan ’n aantal stropers wat weens die druk in Kaapstad hul bedrywighede in Gqeberha voortsit.

Duiktoerusting is ook in die bosse gekry waar twee mans perlemoen op ’n bakkie gelaai het.

“Wanneer hulle hier is, plaas ons weer hierdie kant druk op hulle en hulle hardloop Kaap toe.

“Maar dit bly belangrik dat die publiek inligting verskaf sodat ons met volgehoue druk die stropers uit die gebied kan verdryf.”

Hy het die hoop uitgespreek dat suksesvolle operasies in die toekoms kan lei tot die hervatting van gelisensieerde perlemoenduik vir eie gebruik.

“Daar is baie mense wat vroeër daarvan gehou het om met ’n permit ’n paar perlemoene uit te haal om mee kos te maak, maar stropers het die publiek daarvan ontneem.

“As stropers nie gestop word nie, kan dit gebeur dat perlemoen verdwyn en niks vir ons nageslag oorbly nie.”

Die mans van onderskeidelik 23 en 32 jaar oud sal binnekort in die landdroshof vir die oortreding van die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne verskyn.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Perlemoen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.