Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie lê beslag op wapens in brandpunte in Gqeberha

Die polisie het binne ses uur 67 patrone en drie vuurwapens in misdaadbrandpunte in Gqeberha (Port Elizabeth) gekonfiskeer.

Die beslaglegging spruit uit drie afsonderlike voorvalle Dinsdag in Bethelsdorp en Zwide.

Bethelsdorp het volgens die 2019-’20-boekjaar se misdaadstatistieke die meeste sake van poging tot moord (246) in Suid-Afrika in dié tydperk aangemeld en het die 12de meeste moordsake (152) in die land.

’n Tiener (16) en ’n 33-jarige man is Sondag ook in Bethelsdorp doodgeskiet terwyl hulle na ’n winkel gestap het. Die vermoede is tans dat hulle die slagoffers is van vermeende bendelede se dwaalkoeëls wat op ’n ander bende geskiet het.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê die polisie het nog niemand in verband met die dubbelmoord vasgetrek nie.

Die polisie het wel Maandag twee beskuldigdes vasgetrek vir ’n voorval van poging tot moord wat omstreeks 14:30 in Ou Uitenhage-weg, Missionvale, gebeur het. Volgens Naidu het die polisie spoedig gereageer nadat ’n 20-jarige slagoffer in sy boud raakgeskiet is, waarna die polisie twee beskuldigdes op klagte van poging tot moord en die besit van onwettige ammunisie in hegtenis geneem het.

Die polisie het hul suksesse die volgende dag voortgesit toe hulle Dinsdag omstreeks 09:30 op ’n vuurwapen en 15 patrone beslag gelê het op die hoek van Reed- en Kerkstraat in Bethelsdorp.

Die vermoede is dat ’n onbekende man die wapen neergegooi het terwyl hy weggehardloop het toe hy die polisie agter hom sien. Die man het in nabygeleë bosse verdwyn.

Sowat twee uur later het die polisie se teenbende-eenhede gereageer op inligting van ’n rower wat in Kruismanstraat, Zwide, bedrywig is.

Naidu sê die polisie het ’n verlate huis in Jamesstraat genader, waarna ’n groep mans uit die huis gestorm en weghardloop het. Die polisie het 46 patrone, vier magasyne en ’n pistool in ’n kussingsloop in die huis aangetref.

Omstreeks 15:10 het die polisie weer inligting opgevolg oor ’n man wat onderweg is om ’n vuurwapen by ’n winkel in Bethelsdorp af te lewer. Die betrokke man is in die Chatty 12-gebied naby die winkel opgemerk, maar het weggehardloop toe hy die polisie sien.

Volgens Naidu het die man ’n vuurwapen met ses patrone in laat val en tussen huise in die gebied verdwyn.

Die polisie stel nou ondersoek in oor wie die eienaar van elke vuurwapen is. Die vuurwapens sal ook vir ballistiese toetse gestuur word, het Naidu gesê.

Meer oor:  Gqeberha (Port Elizabeth)  |  Brandpunte  |  Wapens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.