Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Polisie mag sluipmoord nie misbruik’

Die ondersoek na ’n senior polisieoffisier wat glo nie gesorg het dat lt.kol. Charl Kinnear teen sy moordenaars beskerm word nie, moet nie net ’n side show word nie, sê sy weduwee, Nicolette.

Genl.maj. André Lincoln by die roudiens vir lt.kol. Kinnear.

Dit het die afgelope week bekend geword ’n departementele ondersoek is ingestel na genl.maj. André Lincoln, hoof van die teenbende-eenheid en Kinnear se direkte hoof.

Op 18 September verlede jaar het ’n man in ’n rooi kappietrui Kinnear in sy motor voor sy huis in Sydneyvale, Bishop Lavis, op die Kaapse Vlakte doodgeskiet. Polisiebronne sê die skieter is ’n lid van die Disciples-bende.

Hy is nog op vrye voet.

Kinnear het die polisie in Januarie 2019 skriftelik ingelig dat sy en sy gesin se lewe bedreig word. Polisiebeskerming is aan hom verleen, maar in Desember is die beskerming opgeskort sonder dat redes daarvoor verstrek is.

Hoë polisieoffisiere op nasionale vlak en in die Wes-Kaap het in die weke voor Kinnear se dood ’n verslag van die Valke ontvang dat sy selfoonseine onderskep en gevolg word. Hy was toe besig met ’n ondersoek na die onwettige uitreiking van vuurwapenlisensies in Gauteng. In die ses maande en tot minute voor sy dood is sy selfoonsein meer as 2 400 keer onderskep.

Hou ons lede veilig. My man was nié.

Zane Kilian, ’n uitsmyter en gewese rugbyspeler van Springs wat glo Kinnear se selfoonsein nagespoor het, word aangekla van moord, sameswering tot moord en die onwettige onderskepping van kommunikasie.

Nou eis die polisie ook ’n verduideliking van Lincoln oor die opskorting van die Kinnear-gesin se beskerming. Lincoln het die brief die afgelope Donderdag ontvang.

Hy moet onder meer verduidelik waarom hy tussen 3 en 18 September versuim het om beskerming aan Kinnear te verleen. Hy moet ook redes verskaf waarom hy die Wes-Kaapse polisiehoof, lt.genl. Yolisa Matakata, of die hoof van misdaadintelligensie nie oor ’n moontlike bedreiging van Kinnear se lewe ingelig het en derhalwe provinsiale hulpbronne benut het om so ’n bedreiging te probeer stuit nie.

Ingeligtes in die polisie het aan Rapport gesê Lincoln was nie die enigste bevelvoerder wat oor Kinnear se beskerming moes besluit nie.

Nicolette het Vrydag aan Rapport gesê sy is bekommerd oor die nuwe verwikkelings. Sy hoop die klagte teen Lincoln sal nie in net ’n kragtoertjie ontaard nie.

“Wat ook na vore kom moet die saak vorentoe neem. Ons soek nie ’n side show nie, dít gaan my nie beïndruk nie. Dit moet ’n deursigtige proses wees. Ek weier dat my man se sluipmoord misbruik word.

“Dit gaan ons ook nie help om ’n kop-in-die-sand-houding te hê nie. Ons moet die tragedie aanvaar en daaruit leer.”

Sy glo die nuwe verwikkelings kan die gevolg wees van die petisie wat sy ná haar man se dood aan die parlement gestuur het. “Ook, minister Bheki Cele het in November/Desember gesê dat daar ’n ondersoek moet kom oor hoekom die beskerming weggeneem is.”

Sy verwag om volgende maand geroep te word om ’n voorlegging aan die portefeuljekomitee oor polisie te doen.

“Hou ons lede veilig. My man was nié.”

Meer oor:  Nicolette Kinnear  |  Zane Kilian  |  Charl Kinnear  |  Moord  |  Polisieman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.