Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie ‘onbevoeg’ om perlemoen-stropery te bekamp

Die omgewingsdrukgroep Community Against Abalone Poaching (CAAP) sê die polisie in die Overstrand is onbevoeg om die perlemoenstropery daar vas te vat.

Dit volg op ’n verdoemende verslag oor algemene polisiëring in die Overstrand wat deur genl.maj. Johan Brand, die Wes-Kaapse polisieombudsman, uitgereik is.

Brand sê in die verslag die polisie het nie die hulpbronne of die vermoë om misdaad te bekamp en inwoners te beveilig nie, terwyl hul optrede teen perlemoenstropery ook veel te wense laat.

Die verslag volg op ’n klag van Dudley Coetzee, burgemeester van die Overstrand-munisipaliteit, dat die polisie nie hul mandaat ingevolge die Grondwet kán uitvoer nie.

Die ondersoek het spesifiek op die polisiekantore in Hermanus, Gansbaai, Kleinmond en Stanford gefokus en gekyk na klagtes dat veral perlemoenstropery en onluste nie doeltreffend gepolisieer word nie.

Leo van Dyk, sekretaris van CAAP, sê die verslag meld dat die polisie geen begrip het van die werklike behoeftes van die gemeenskap nie en dat perlemoenstropery onverpoosd voortgaan.

As hulle nie eens op papier op perlemoenstropery wil fokus nie, hoe gaan hulle dit op voetsoolvlak beveg?

Van Dyk sê luidens die verslag het die vermoë van die polisie in Gansbaai om misdaad te ondersoek, die afgelope twee jaar skerp afgeneem.

“In die 2018-’19-boekjaar is in 72% van aangemelde gevalle niemand in hegtenis geneem nie.”

Van Dyk sê wat die gemeenskap nog meer bekommer, is dat die woord perlemoen nie een keer in die polisie se jaarlikse prestasieplan genoem word nie.

“As hulle nie eens op papier op perlemoenstropery wil fokus nie, hoe gaan hulle dit op voetsoolvlak beveg?” vra Van Dyk.

Hy sê die syfers wat in die polisieverslag genoem word, is net die oortjies van die seekoei.

“Daar word gemeld dat perlemoen ter waarde van meer as R40 miljoen die afgelope jaar gekonfiskeer is. Ons is daarvan oortuig dat die hoeveelheid perlemoen wat wel deur die netwerk glip en onwettig uitgevoer word, meer as dubbeld soveel is.”

Volgens hom moet daar gekyk word na die aantal stropers wat aktief langs die kus is. Dit word konserwatief op 3 000 geraam. “As elkeen van hulle net 10 kg perlemoen per dag uithaal, is dit ’n enorme hoeveelheid,” sê hy.

Groter samewerking tussen die verskillende wetstoepassingsowerhede is volgens Van Dyk nodig om die stropery hok te slaan.

Meer oor:  Polisie  |  Overstrand  |  Perlemoen-Stropery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.