Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie kyk nié na skietery op plaas in Limpopo

Die polisie in Limpopo ondersoek nie die skietery Saterdagaand op ’n plaas in die Percy Fyfe-gebied buite Mokopane as ’n plaasaanval nie.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê daar is geen klag oor die beweerde plaasaanval by die drie nabygeleë polisiekantore in Mokopane, Westenburg óf die Mashashane-polisiekantoor aanhangig gemaak nie.

Marelie Wroe (43), ’n bestuurder op die Landsberghoek-plaas in die Percy Fyfe-gebied, beweer daar is Saterdagaand deur onbekende aanvallers op die plaashuis geskiet.

Sy beweer dat sy vanuit die plaashuis teruggeskiet het op die aanvallers.

Wroe het Maandag aan Netwerk24 gesê sy “mag nie verder praat oor wat gebeur het nie”.

Sy het erken dat sy nie ’n klag by enige polisiekantoor oor die beweerde voorval ingedien het nie.

“Ek het nie sein om hier van die plaas af na ’n polisiekantoor toe te bel nie. Ek kan net oproepe op WhatsApp maak. Ek wag nog steeds dat die polisie my bel.”

Marelie Wroe (43) saam met Marcelle Maritz van die VF Plus in Mokopane. Foto: Verskaf

Sy het Sondag gesê sy het een en ’n half magasyn op ’n onbekende aantal aanvallers leeg geskiet en glo een van hulle gewond.

Volgens Wroe was daar Saterdagaand ná die beweerde skietery, “ ’n klomp mense wat sy nie eens seker is wie almal is nie”, op die plaas. Van die mense is boere van die omgewing en veiligheidsmaatskappye in die nabygeleë Mokopane. “Hulle het alles vertrap, so hier is geen bewyse oor nie.”

Mojapelo sê indien die polisie ontbied is, is dit hulle werk om vas te stel of daar bewyse is, of nie.

Wroe beweer Derick Kruger (26), ’n vriend van haar seun, Willem McDonald (25), het Saterdag omstreeks 18:30 by die plaashek uitgery nadat hy daar gekuier het. Daar is toe glo ’n skoot op hom geskiet.

Hy het ’n boodskap op McDonald se selfoon gestuur en glo gevra “hoekom skiet jy op my?” Wroe sê McDonald het gedink Kruger maak ’n grap.

Sowat ’n uur later het sy en Eve Cluclow (45), ’n niggie van haar, in die huis koffie gedrink toe twee skote agter die huis klap.

Dit is toe dat Wroe haar vuurwapen kry en volgens haar deur ’n oop venster skote geskiet het.

Spoorsnyers van plaaswagte wat gereeld saam met die polisie werk kon geen voet- of skoenspore, bloed of patroondoppies op die plaas, wat in ’n afgeleë beboste gebied is, vind nie.

Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo, wat haar Sondag na die plaas gehaas het, het Maandag gesê dit is belangrik dat mense plaasaanvalle by die polisie aanmeld sodat dit ondersoek kan word.

Mojapelo het ook ’n beroep op mense gedoen om misdrywe by die polisie aan te meld.

Meer oor:  Mokopane  |  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.