SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie ondersoek taxi-bestuurder wat kameelperd doodry
Omstanders kyk hoe word die ernstig beseerde Switserse man op die ongelukstoneel behandel.

Die Limpopo-polisie het Woensdag bevestig hulle ondersoek ’n saak van roekelose bestuur teen die bestuurder van ’n taxi wat oor die naweek ’n kameelperd in die Krugerwildtuin doodgery het.

Die dier het op die kampvoertuig wat Rolland Koller, ’n Switserse burger, bestuur het, geval en hom ernstig beseer. Barbara Wyss, wat saam met Koller in die voertuig was, het ligte beserings opgedoen. Albei is Switserse toeriste, sê die polisie.

Netwerk24 het ná verskeie navrae oor die voorval betroubaar verneem ’n span is Dinsdag van die Phalaborwa-polisiekantoor na die ongelukstoneel gestuur om ondersoek in te stel. Die polisie kon egter geen rekord kry dat ’n klag wel ingedien is nie.

Ná die polisiebesoek is besluit om ’n dossier vir verdere ondersoek te open. Volgens brig. Motlafela Mojapelo word ’n saak van roekelose en/of nalatige bestuur ondersoek.

Die jong kameelperd is op die toneel dood. Sy karkas het ná die ongeluk langs die gehuurde kampvoertuig beland. Foto: Bernhard Bekker / Facebook

“Wanneer die ondersoek afgehandel is, sal die dossier aan die direkteur van openbare vervolging oorhandig word wat sal besluit of die bestuurder vervolg moet word,” sê Mojapelo.

Netwerk24 het vroeër berig dat die remmerke agter die taxi sowat 30 m ver gestrek het. ’n Veldwagter van die wildtuin met kennis van die ongeluk sê die taxi moes minstens 70 of 80 km/h gery het.

Koller het volgens Jaco Gericke van CPF Medical veelvuldige kopbeserings opgedoen.

Ike Phaahla, Sanparke-woordvoerder, sê Koller word in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg behandel.

Manuel Irman, woordvoerder van die Switserse ambassade, het by navraag gesê die mense is van Switserse afkoms en die ambassade ondersteun hulle. Hy wou om veiligheidsredes nie verder oor hul toestand of identiteit uitwei nie.

Intussen het die Krugerwildtuin vandeesweek gesê hy gaan hernude pogings aanwend om jaagduiwels in die wildtuin vas te trek. Phaahla sê al die spoedkameras in die wildtuin is versien en gekalibreer en sal van dié week af weer in gebruik geneem word.

Dit volg nadat ’n jong hiëna Maandag op die Phalaborwa-pad van kant gemaak moes word nadat ’n voertuig die dier se rug afgery het.

Elize Roets van Phalaborwa het op die hiëna afgekom en by die dier gewaak totdat hulp opgedaag het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.