Die polisie in Maclear in die Oos-Kaap het drie verdagtes in hegtenis geneem nadat twee mans wreed op ’n kleinhoewe buite die dorp vermoor is.
Die polisie het op die mans se verminkte lyke afgekom nadat dit by die polisie aangemeld is dat die man wat op die kleinhoewe, sowat 5 km buite die dorp, woon lanklaas gesien is.
Kapt. Khaya Tonjeni, polisiewoordvoerder, sê ’n bekommerde inwoner het die polisie Maandag laat weet hulle het die eienaar ’n week laas gesien.
“Die polisie het gaan ondersoek instel op die hoewe wat op die Mount Fletcherpad uit is en het daar op ’n grusame toneel afgekom. Die polisie moes hul weg by die huis indwing en het twee lyke van mans van onderskeidelik 50 en 54 jaar oud op die vloer van die slaapkamer gekry. Hul hande is agter hul rug vasgemaak en hulle is keelaf gesny. Daar was tekens van ’n bakleiery en erge aanranding.”
Volgens die polisie is die moontlike motief in hierdie stadium huisroof aangesien die aanvallers die huis van buite gesluit het.
Die polisie het ’n televisie en kontant in die verdagtes se huis gekry.
Die drie verdagtes waarvan twee 40 jaar oud is en een 18, verskyn Donderdag in die landdroshof in Maclear.
Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, het die polisielede wat die saak ondersoek het, vir hul vinnige optrede geloof.

Die R56-pad tussen Maclear en Mount Fletcher in die Oos-Kaap. Foto: Google Maps