Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie ontken 3de verdagte vas oor 10-jarige se skietdood

Die polisie het Donderdag gerugte ontken dat ’n derde man vir die skietdood verlede jaar van ’n tienjarige meisie van Tafelsig in hegtenis geneem is.

Ayesha Kelly, ’n leerling van die Primêre Skool Tafelsig, was op 8 Desember 2019 die slagoffer van bendegeweld toe sy in ’n skietgeveg in die rug getref is. Sy het later op die toneel beswyk.

Ayesha Kelly (10) Foto: Argief

Twee beskuldigdes, Cameron Julies en Nathaniel Arendse, is kort ná die voorval in hegtenis geneem en het sedertdien in die landdroshof in Mitchells Plain op aanklagte van onder meer moord tereggestaan.

Die saak is tot Woensdag uitgestel nadat net Julies in die beskuldigdebank was. Die hof het gehoor dat Arendse in die gevangenis dood is en dat die polisie nog op ’n doodsertifikaat wag.

Sers. Noloyiso Rwexana, wat bevestig het dat die polisie wag dat die gevangenis se mediese personeel ’n doodsertifikaat uitreik, kon nie oor die oorsaak van sy dood uitbrei nie.

Volgens die koerant Son het die ondersoekbeampte in die saak, sers. Bradley Schuurman, die familie intussen ingelig dat ’n derde verdagte in hegtenis geneem is en dat die saak beslis na die hooggeregshof geskuif gaan word.

Rwexana kon dit egter nie by navraag bevestig nie.

“’n Derde persoon is nie vir die moord in hegtenis geneem nie,” het sy gesê.

Op die vraag of ’n derde verdagte moontlik ondervra is, het sy dit nie ontken nie.

Julies se verhoor is tot 14 Augustus uitgestel sodat die staat ’n afskrif van die doodsertifikaat kan bekom.

Die polisie in Mitchells Plain en die bende-eenheid het daardie Sondagaand op berigte van ’n skietery tussen strydende bendes in die Tafelsig-omgewing gereageer.

Die polisie het te voet na die verdagtes gaan soek. Die eerste verdagte is in Olifantshoekstraat in Tafelsig vasgetrek en die tweede is ook naby die toneel met ’n ongelisensieerde vuurwapen betrap. Die polisie het in Desember gesê albei die beskuldigdes het sterk bande met plaaslike bendes.

Meer oor:  Tafelsig  |  Skietdood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.