Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Polisie op spoor van Melville-skieters'

Die polisie is op die spoor van die skuldiges in die Melville-skietvoorval, sê David Makhura, premier van Gauteng.

“Ek wil graag sien dat die oortreders in die Nuwejaar-skietvoorvalle in Melville en die Johannesburgse middestad in hegtenis geneem word. Die polisie het my verseker hulle is warm op hul spoor,” het Makhura Donderdag op ’n teenmisdaadveldtog in Midrand gesê.

Die insittendes van ’n swart BMW-sportnutsvoertuig het op Nuwejaarsdag omstreeks 01:00 vir Samantha Basdew en Liana Petersen voor die Poppy’s-restaurant  in Melville doodgeskiet.

Ses mense is ook in die skietery gewond, onder wie die akteur Mortimer Williams, wat in sy heupbeen getref is.

Omstreeks 03:00 is 11 mense by die Mary Fitzgerald-plein in Newtown gewond deur ’n skieter wat van ’n brug af op hulle losgebrand het.

’n Mobiele polisiekantoor staan nou voor die Poppy’s-restaurant in Melville, Johannesburg. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Brig. Mathapelo Peters, polisie woordvoerder van Gauteng, sê die twee voorvalle kan in dié stadium nie verbind word nie.

’n Derde soortgelyke voorval het glo voor Nuwejaarsdag in Parkhurst, Johannesburg, plaasgevind, hoewel Peters nie die besonderhede daarvan kon bevestig nie.

Die motorwag wat in die Melville-voorval in die kop geskiet is, het moontlik blywende breinskade. Lerato Molefe (27) se ma, Joyce Nkambule, het Donderdag gesê hy is al verskeie kere geopereer. Hy is steeds in die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg.

“Hy was die broodwinner en ons sukkel baie sonder hom. Ek dink steeds die hele voorval is bitter onregverdig,” sê sy.

Sherwin Basdew, Samantha se man, sê die polisie het nog nie vir hom enige terugvoering oor die saak gegee nie.

Ralph Fredericks is tydens die voorval in sy hand en deur die bors geskiet. By hom is Sherwin Basdew wie se vrou, Samantha, in die voorval dood is. Hulle het op 5 Januarie die gedenkdiens by die restaurant Poppy’s bygewoon. Foto: Felix Dlangamandla

Hy was die aand in die kleedkamer toe sy vrou op die sypaadjie voor die restaurant geskiet is.

Die egpaar se kinders van drie en vyf jaar oud is weens die trauma nog nie vanjaar skool toe nie. “Ons probeer aangaan, maar dit is regtig moeilik,” sê Basdew.

Hy sê die gesin sal nie ’n private ondersoek na Samantha se dood doen nie en vertrou dat die polisie hul werk sal doen.

Dean Ebden-Hitzeroth, ’n woordvoerder van Poppy’s, sê dit is moeilik om te bepaal of die voorval ’n impak op die onderneming het omdat Januarie gewoonlik stiller is.

“Ons gereelde klante ondersteun ons baie. Die sigbare polisiëring is natuurlik ook ’n baie goeie ding,” sê hy.

’n Mobiele polisiekantoor staan voor die restaurant.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.