Vals gerugte oor hoe die Brand-gesin van Hartswater afgryslik vermoor is, is Donderdag op sosiale media versprei.
Dié ongegronde beweringe oor hoe Dan (83), Breggie (73) en Elzabie Brand (54) vermoor is, is kort ná die verskyning van vyf verdagtes in die hof op Hartswater wyd op verskeie sosialemedia-platforms gedeel.
Die bestuur van die polisie in die Noord-Kaap het Vrydagoggend ’n dringende verklaring uitgereik en hul kommer oor dié beweringe uitgespreek.
Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê: “Die bestuur van die polisie in die Noord-Kaap neem met groot kommer kennis van die plasings oor die grusame moorde op die Brand-gesin in Hartswater.”

Elzabie Brand (54) en haar ouers Breggie (73) en Dan (83), wat Sondag in hul huis op ’n hoewe in Hartswater aangeval, ontvoer en later vermoor is.
Hy sê die boodskappe en plasings op sosiale media beweer dat een van die slagoffers se oë verwyder, haar borste afgesny en sy herhaaldelik verkrag is.
“Hierdie beweringe is absoluut onwaar en word weerlê deur die lykskouing wat Donderdag gedoen is,” sê Ramatseba.
Hy het ook gerugte dat die Brand-egpaar aan ’n boom opgehang is ten sterkste ontken en sê hulle was sowat 500 m uitmekaar en meer as 1 km van waar Elzabie se lyk gevind is.

Geel polisielint buite die Brand-egpaar se huis. Foto: Anena Burger
hartswater
Die gebied waar die gesin se lyke gevind is, is ruig en moeilik begaanbaar en het die soektog na die egpaar Maandagaand vir die polisie en soekspanne bemoeilik.
Die plek waar die egpaar se lyke Dinsdagmiddag omstreeks 17:00 gevind is, is deur van die verdagtes uitgewys.
Die polisie het die publiek en gemeenskappe versoek om nie vals inligting oor die moorde te versprei nie.
“Hierdie vals gerugte traumatiseer die familie en gemeenskappe,” sê Ramatseba.
Hy sê die Noord-Kaapse trio-taakspan is tans besig om die saak te ondersoek.
Die vyf verdagtes, Kgomotso Mpulwana (42), Tshepo Visagie (36), Donald Seoleseng (20), Tshepaone Melato (19) en Realeboga Manyedi (19), sal op 13 Augustus weer in die landdroshof in Hartswater verskyn.