Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie se stelsel vir vingerafdrukke werk nie

Die stelsel wat die polisie gebruik om onder meer verdagtes in strafregtelike sake se vingerafdrukke na te gaan vir polisieondersoeke, die Automated Fingerprint Identification System (AFIS), werk nie meer nie.

Donderdag om 08:00 was daar reeds 30 000 aansoeke vir vingerafdrukke wat nie verwerk kon word nie.

Die omsendbrief van ene brig. N.M. Baloyi waarin hy skryf dat die polisie se AFIS-stelsel vir onder meer die nagaan van vingerafdrukke, nie meer werk nie.

Die aansoeke kom van onder meer speurders wat versoek dat daar gekyk word na die volgende:

  • of verdagtes en beskuldigdes in strafregtelike sake vorige veroordelings het.
  • of vingerafdrukke wat op misdaadtonele geneem is, op die polisie se misdaadrekords is.
  • vir die nagaan van die vingerafdrukke van mense wat aansoek gedoen het om vuurwapenlisensies, en om uit te vind wat die polisie nog benodig om dié aansoeke te verwerk; en
  • aansoeke van mense vir polisieklaringsertifikate wat hulle byvoorbeeld benodig om oorsee te reis of wat hulle vir nuwe werkgeleenthede benodig.

Die waarnemende hoof van die polisie se misdaadrekord- en misdaadtoneelbestuur-afdeling, ene brig. N.M. Baloyi, het Donderdag ’n omsendbrief aan al die nasionale en provinsiale hoofde van dié afdeling, wat insluit die forensiese departemente, gestuur om hulle oor die situasie in te lig.

Gebruikers van die AFIS-stelsel kon ook nie Donderdag in die stelsel aanmeld of navrae oor dossiere rig nie.

Baloyi het nie in die omsendbrief gesê hoe lank die situasie sal voortduur nie.

Die kontrak met die AFIS-diensverskaffer het volgens die omsendbrief verstryk, maar Boloyi sê nie wanneer nie.

Die instandhouding- en ondersteuningsdienste vir die stelsel is egter reeds op 4 Oktober gestaak.

Die AFIS-diensverskaffer ondersteun en onderhou derhalwe nie meer die stelsel nie.

’n Ander omsendbrief, oor die opskorting van die instandhouding- en ondersteuningsdienste, is eers op 7 November na die verskillende bevelvoerders gestuur.

Baloyi skryf in die omsendbrief van Donderdag dat daar ’n proses aan die gang gesit is om ’n nuwe AFIS-stelsel aan te skaf. Daar is geen inligting in die brief oor hoe lank dit gaan neem om ’n nuwe AFIS-stelsel te kry nie.

Op Sondag 2 Desember was daar ook ’n kragonderbreking by die Numerus Sita-gebou in Arcadia, Pretoria. Sita is die staat se inligtingstegnologie-agentskap.

As die stelsel nie werk nie, beteken dit dat sake op die hofrol ná herhaaldelike uitstel voorlopig teruggetrek kan word, wat weer ’n uitwerking op die alreeds te vol hofrol het.

Die kragonderbreking het volgens die brief skade aan toerusting veroorsaak. Dit het glo veroorsaak dat geen aansoeke verwerk kon word nie. Die aantal aansoeke het volgens Baloyi se brief ’n bedreiging ingehou vir die polisie se sentrale WIP-stelsel (Work in Progress).

“Dit was nodig dat die aanstuur, ontvang en beveldienste gedeaktiveer word om seker te maak dat die WIP-stelsel nie in duie stort nie.”

Verskeie speurders was Donderdag geskok oor die nuus dat die AFIS-stelsel nie werk nie.

“Hoe moet ons nou ons werk doen,” het ’n speurder gevra. “Ja nee, nou is die polisie in sy p**s”, het ’n ander een gesê.

Ook Mncedisi Mbolekwa van die polisievakbond Popcru in die Wes-Kaap was verbaas en geskok. “Dit kan mos nie gebeur nie, dit mag mos nie gebeur nie. Dit kan mos veroorsaak dat die polisie nie sy werk doen nie en beteken dat die polisie en die slagoffers van misdaad nog meer in gevaar is.”

Hy sê dat hy die aangeleentheid onmiddellik met Popcru se nasionale bestuur gaan opneem.

Michael Jacobs, ’n gemeenskapsaktivis van Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte, het die situasie as kommerwekkend beskryf. Hy sê die polisie moet nou begin om hul interne probleme op te los.

“As die stelsel nie werk nie, beteken dit dat sake op die hofrol ná herhaaldelike uitstel voorlopig teruggetrek kan word, wat weer ’n uitwerking op die alreeds te vol hofrol het.”

Volgens Jacobs beteken uitgestelde geregtigheid geen geregtigheid.

Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het Donderdagaand gesê die misdaadrekordsentrum is steeds operasioneel. Volgens Naidoo is daar wel enkele veranderings wat plaasvind, maar die veranderings sal volgens hom beslis nie dienslewering raak of beïnvloed nie. “Op lang termyn sal dit dienslewering versterk,” het Naidoo gesê.

 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.