Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie slaan toe op twee bordele in Rosestad
Die polisie het Woensdag op die huis in Fleurdal, Bloemfontein, toegeslaan wat glo as ’n bordeel gebruik is. Foto: André Damons
Foto ter illustrasie.Foto: André Damons

Die polisie in Bloemfontein het vandeesweek twee bordele in die stad kort na mekaar toegemaak en verskeie vroue en ’n boer in hegtenis geneem.

In die eerste voorval Woensdagmiddag het lede van die Bloemfonteinse polisie se misdaadintelligensie-eenheid en die blitspatrollie ’n 57-jarige boer op heterdaad saam met ’n vrou in ’n kamer betrap.

Die polisiebeamptes het omstreeks 14:30 op die huis in Barry Richterweg, Fleurdal, toegeslaan en ook twee jong vroue, wat glo as prostitute gewerk het, saam met die 65-jarige huiseienaar, ’n Israeliese burger, in hegtenis geneem.

Die bordeel is ’n klipgooi van die plek waar die polisie twee jaar gelede ook ’n bordeel toegemaak het en vier vroue in hegtenis geneem het.

Ao. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, sê die polisie het op inligting reageer en die huis dopgehou voor hulle Woensdagmiddag toegeslaan het.

Na verneem word, het beamptes die huis sowat ’n maand lank dopgehou en van ’n polisie-agent gebruik gemaak om ’n afspraak met een van die vroue te maak.

Die vroue het ook in ’n plaaslike koerant geadverteer.

Die vroue, 22 en 29, is onderskeidelik van Durban en Zimbabwe.

“Die eienaar van die huis bly in dieselfde huis en daar word beweer dat hy geweet het wat aangaan en glo van die opbrengste geleef het. Daar is ook op R4 200 beslag gelê,” sê Earle.

Die huiseienaar gaan daarvan aangekla word dat hy ’n bordeel bedryf het.

Donderdagmiddag het die polisie ook op ’n bordeel in Kenneth Kaundaweg (die ou Eeufeesweg) toegeslaan en drie vroue in hegtenis geneem. Die bordeel is ook toegemaak.

Die vroue is onderskeidelik van Thailand, Amerika en die Oos-Kaap.

Die buitelandse vroue gaan ook aangekla word omdat hulle glo onwettig in die land is.

Die ander vroue gaan almal van die uitlokking van ’n persoon vir immorele doeleindes in ’n openbare plek aangekla word.

Genl.maj. Piet de Wet, bevelvoerder van die Parkweg-polisiëringsgebied, het die beamptes en veral die misdaadintelligensie-eenheid geprys vir die inligting wat hulle verskaf het sodat daar teen die aktiwiteite opgetree kon word.

“Uiteindelik is dié tipe immorele optredes die dryfveer agter dwelmhandel wat tot geweldmisdaad bydra,” sê De Wet.

Die beskuldigdes verskyn binnekort in die landdroshof in Bloemfontein.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Klopjag  |  Prostitute  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.