Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie soek dié man in verband met Cremer-saak

’n Man wat in 2006 instrumenteel was in die aankeer van die reeksmoordenaar Jimmy Maketta, wat ook as die Jesus Killer bekend staan, is nou glo ook ’n persoon van belang in die ondersoek na die Meghan Cremer-moord.

Die man se naam is aan Netwerk24 bekend.

Hierdie man is ’n persoon van belang in die Meghan Cremer-moordsaak. Foto: Verskaf

Volgens inligting wat Netwerk24 ontvang het, is die man glo op Maandag 5 Augustus by ’n FNB-kitsbank in Lakeweg, Philippi, op kringtelevisie afgeneem waar hy glo geld uit Cremer se bankrekening onttrek het.

’n Bron het die man se identiteit en die foto van hom by die kitsbank aan Alan Winde, Wes-Kaapse premier, gestuur.

Winde het dit daarna op ’n WhatsApp-groep geplaas wat die Cremer-gesin begin het nadat Meghan vermis geraak het, en gevra of enigiemand die man ken.

Die WhatsApp-groep bestaan glo uit Winde, Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, die ondersoekbeampte in die saak, Cremer se broer, Paul, haar ma, naaste vriende en misdaadintelligensielede. Die WhatsApp-groep is deur haar ma begin.

Die skermgreep wys ’n man met ’n grys baard en ’n wit keps by die kitsbank. Die foto wys ook die naam van die kitsbank waar die geld onttrek is.

Meghan Cremer op een van haar geliefde perde.Foto: Facebook

Winde het Maandag gesê hy het gehoop dat die polisie teen Maandag of oor die naweek reeds die man minstens vir ondervraging sou ingeneem het.

Hy het gesê dat hulle nie mag oor die polisie het nie, maar dat hy Fritz gaan vra om ’n oorsig te gee oor die vordering in die saak en nog twee ander sake wat die naweek onder sy aandag gekom het.

Winde sê dit is alombekend dat die man ’n bekende in die Philippi-omgewing en in die Egoli-plakkerskamp is.

Die man is glo ook ’n bekende in buurtwagkringe in die gebied.

Sers. Noloyiso Rwexana het by navraag gesê die ondersoek is nog aan die gang en dat niemand verder aangekeer is nie.

Cremer is op Saterdag 4 Augustus kort ná 18:00 vir die laaste keer gesien toe sy in haar wit Toyota Auris met ’n Knysna-registrasienommer by die Vaderlandsche Rietvlei-perdestalle in Philippi weg is waar sy gewoon het.

Sy is die Sondag as vermis by die Philippi-polisiekantoor aangemeld.

Haar lyk is op Donderdag 8 Augustus omstreeks 01:00 by ’n sandmyn in Philippi gevind.

Drie mans, Jeremy Sias (27), Charles Daniels (39) en Shiraaz Jaftha (34), is die Maandag ná Cremer se verdwyning in hegtenis geneem. Hulle het op 11 September weer in die landdroshof in Athlone verskyn waar Jaftha sy borgtogaansoek laat vaar het.

Sias staan op vyf aanklagte tereg, naamlik moord, ontvoering, gewapende roof, regsverydeling en motordiefstal.

Jaftha en Daniels staan volgens die staat voorlopig op aanklagte van motordiefstal en regsverydeling tereg.

Die saak is tot 16 Oktober vir verdere ondersoek uitgestel.

Meer oor:  Meghan Cremer  |  Philippi  |  Moord  |  Polisie-Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.